BLOEMFONTEIN – Rico, die merinoram wat sewe jaar deur die Moordenaarskaroo gedwaal het, se storie van hoop het nou gelei tot die stigting van die Rico-beursfonds.
‘n Geselligheid is Maandag 17 Augustus in die Naval Hill-planetarium gehou waar die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) en die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Landbou-fakulteit die beurs bekend gestel het.
Die fonds is die uitvloeisel van ‘n inspirerende skaapstorie wat beslis nie ‘n wolhaarstorie is nie – dit is ‘n verhaal van uithou, aanhou en gee. Dit is nie net ‘n storie met ‘n gelukkige einde nie, maar ‘n nalatenskap waar die stokkie aangegee word, sodat ander uithouers en aanhouers se lewens kan verander. Sommige verhale vertel jou presies waarvoor ‘n bedryf hom beywer, en die wel en weë van Rico die skaap is so ‘n verhaal.
Rico se sinkplaatpad het begin waar hy op ‘n plaas in die ongenaakbare Moordenaarskaroo, van sy trop geskei is. “Enige boer sal jou vertel dat dit baie van ‘n skaap verg om stoksielalleen in hierdie area te oorleef,” vertel Dan Kriek, hoofbestuurder van die NWKV.
“Rico was vir sewe jaar op sy eie, sonder enige mensehand wat hom versorg het, sonder beskerming teen roofdiere, en oorgelaat aan die elemente. Hy moes daagliks sy eie water en weiding opspoor, en het so van droogte tot droogte oorleef voordat iemand hom eendag teen ‘n lyndraad opgemerk het.”

Rico is na die Brinks van Spitzkop geneem waar hy versorg en geskeer is. Sy storie en sy vag het die nuus gehaal – ‘n plaaslike rekord 30,7kg wol. Nie alleen het Marietjie en Niel Brink vir Rico nog ‘n kans gebied nie – sy uitsonderlike verhaal is gevier met ‘n spesiale liedjie wat vanjaar saam met ‘n video tydens die NWKV se jaarkongres en eeufeesvieringe onthul is. Gerber en Co het ‘n unieke muurbehangsel uit Rico se verwerkte wol gemaak.
“Rico se verhaal resoneer op talle vlakke met die NWKV. Die plaaslike wolbedryf vier vanjaar sy 100-jarige bestaan en, net soos Rico, was die bedryf se pad in Suid-Afrika nie altyd met rose besaai nie. Dis ook ‘n storie van moeilike tye, oorlewing en ingrypende verandering. Dit is egter ook ‘n storie van oorwinning, groei, vernuwing en talle hoogtepunte. Die verhaal van ons bedryf en die produsente wat hierdie bedryf deur dik en dun opgebou het tot waar dit vandag wêreldklas is, spreek van dieselfde veerkragtigheid wat Rico deur moeilike tye staande gehou het en hom ‘n legende van ons tyd maak.”
Een van die Brinks se hartswense was dat Rico se verhaal ‘n positiewe invloed op ander se lewens kon hê. “Hulle verstaan self hoe ‘n droogte hulle kinders se universiteitsplanne kan bedreig en daarom was hulle versoek aan die NWKV dat ons die leiding neem om ‘n beursfonds te stig wat ‘n daadwerklike verskil aan hardwerkende leerders se lewens kan maak,” verduidelik Kriek.
Na samesprekings met prof. Johan van Niekerk en prof. JW Swanepoel van die universiteit se Fakulteit van Landbou, is hierdie beursfonds nou ‘n werklikheid.
Die UV het reeds agt bestaande volle beurse vir meestersgrade in Volhoubare Landbou onder die Rico-beursfonds geposisioneer. ‘n Verdere twee voorgraadse beurse word ook nou deel van die fonds: Een voorgraadse beurs is spesifiek vir ‘n leerder uit die breë Karoo-landbougemeenskap, terwyl die tweede voorgraadse beurs toegeken sal word aan ‘n leerder uit Suid-Afrika se ander wolproduserende streke. Hierdie twee leerders sal die geleentheid kry om in enige landbourigting onder die vaandel van die UFS se Landboufakulteit te studeer.







You must be logged in to post a comment.