VrystaatKroon

Nat en bewolkte toestande hou boere se stropers uit lande, en nog reën kom

Gereelde reënval oor die Noord- en Oos-Vrystaat bring hoop vir sterk oeste, maar nat lande en min sonskyn kniehalter saaiboere se stroopwerk.
Gereelde reënval oor die Noord- en Oos-Vrystaat bring hoop vir sterk oeste, maar nat lande en min sonskyn kniehalter saaiboere se stroopwerk. FOTO: Hendrik Knobel

Die afgelope paar weke se welkome reënval in die Noord- en Oos-Vrystaat het gemengde reaksies onder plaaslike saaiboere ontlok.

Hoewel die neerslae broodnodige vog aan gewasse verskaf en die algemene opbrengspotensiaal versterk, skep die aanhoudende nat en bewolkte toestande ook beduidende uitdagings, veral tydens die stroopseisoen.

Volgens Hendrik Knobel, ‘n verteenwoordiger van Vrystaat Landbou (VL) in Bethlehem, het die reën die stroop van gewasse soos sojabone en suikerbone ernstig vertraag.

“Die nat lande maak dit eenvoudig onmoontlik vir boere om met masjinerie die lande binne te gaan. Dit lei tot vertragings wat ‘n direkte invloed op produksiebeplanning en logistiek het,” verduidelik hy.

Knobel wys daarop dat, hoewel die reënval vir Maart en April 2026 nie so hoog is soos gedurende dieselfde tydperk in 2025 nie, die frekwensie van reënerige en bewolkte dae grootliks ooreenstem. In die Bethlehem-distrik is daar tot en met verlede week tussen 50 mm en 60 mm reën vir April aangeteken. Hierdie patroon van aanhoudende vogtigheid hou die grond nat en vertraag die droogproses wat vir effektiewe stroop vereis word.

Die goeie nuus

Ondanks die uitdagings is daar ook goeie nuus. Sommige boere wat vroeë, vinnig-rypwordende sojaboonkultivars geplant het, kon reeds begin stroop. Die opbrengste van hierdie aanplantings wissel tussen 2,2 ton en 3 ton per hektaar, wat as redelik tot goed beskou word onder die huidige omstandighede.

“Algemene opbrengspotensiaal van gewasse soos sonneblomme, sojabone, suikerbone en mielies lyk baie belowend,” sê Knobel.

“Belangrik is dat daar nog nie noemenswaardige gehalteskade aan gewasse is, soos wat ons in 2025 gesien het nie.”

Hy voeg egter by dat produsente toenemend smag na ‘n paar dae van droë, sonnige weer om die stroopproses te versnel.

Verdere nat toestande

Vanuit ‘n weerkundige perspektief lyk dit nie of die nat toestande binnekort gaan opklaar nie.

Johan van den Berg, ‘n onafhanklike weervoorspeller van Bloemfontein, meen dat verdere reën waarskynlik is, veral teen die einde van April en in die begin van Mei. Hy dui ook aan dat reën moontlik deur Mei en selfs tot in vroeg Junie kan voortduur.

Wat temperatuur betref, het Van den Berg se voorspelling dat die eerste werklike koue toestande die week rondom 27 tot 29 April kan intree wel waar geword, veral in die suidelike dele van die Vrystaat. Hy meen egter dat ryp nie ‘n onmiddellike bedreiging vir die Noord-Vrystaat inhou nie.

“Gewoonlik beteken ‘n nat begin van die winter dat temperature nie uiters laag daal nie, maar dit gaan beslis koud voel, veral met die vogtige lug,” verduidelik hy.

Die koudste word eers later, in Julie en Augustus, verwag.

Vir nou bly die situasie dus ‘n fyn balans tussen voordeel en uitdaging. Terwyl die reën die grond en gewasse bevoordeel en goeie oeste belowe, plaas dit ook druk op boere om strooptyd optimaal te benut wanneer weerstoestande dit toelaat. Knobel voeg by dat, in ‘n bedryf waar tydsberekening en weerstoestande hand aan hand loop, aanpasbaarheid die sleutel tot sukses bly.

LEES OOK: ‘Wat ‘n heerlikheid ná 10 droë jare’ – milde reën oor groot dele van Noord-Kaap

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article