Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

TWYFELHOEKIE | Sê of doen terwyl jy kans het vir sê of doen


Oor hoe finaal die dood is sal ‘n mens oor al die eeue nie uitgeskryf raak nie.

Vanaand trek ek weer ‘n laai oop met herinneringe aan al my naby-mense. Wat was en op hierdie aarde nie weer sal wees nie.

‘n Mens se onthou gaan mos skielik oop as jy eers begin. En dit is nie net foto’s nie, soms is dit ‘n blitsgedagte.

Ander keer ‘n plek, soms ‘n woord wat ‘n mens terugvat en soms sommer net verlang omdat verlang verlang is.

Interessant hoe ‘n mens ná dood dae en maande en jare soms iets kan bêre en dan skielik is dit net weer daar.

Dan verstaan jy sommer die woord hartseer van voor af. ‘n Hart wat seer is.

En namate ‘n mens ouer word, word die mense om jou meer wat jy so verlang.

Ma het gesê die bos om jou word leeg gekap. En dan is dit jou beurt. Wie weet wanneer? Ons weet nie. Daarom moet ons werk asof dit nooit gaan gebeur nie, maar leef asof dit elke dag ons beurt is.

Die finaliteit van dood maak wel dat ons nie moet uitstel om te sê ons is lief nie, nog ‘n drukkie te gee nie, ‘n laaste guns te doen, ‘n bietjie te deel nie.

‘n Mens moet maar vrede maak waar jy moet vrede maak. En jy moet maar nalaat wat jy weet nie in jou geslag sal gebeur nie.

Wanneer iemand naby ‘n mens doodgaan, is dit lekker om die mooi te onthou. Om aan die goeie vas te hou en te besef hoe mooi was die mooi toe jy nog nie besef het dit gaan verby nie.

Een dag, dan is dit skielik verby. Daardie dag word alles wat verby is net onthou.

Jy kan net terugdink, niks meer byvoeg nie. Maak dus seker jy sê of doen, terwyl jy die kans het om te sê en te doen.

LEES OOK: TWYFELHOEKIE | Elkeen van ons kan nie ons eie flenters ontken nie

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article