Na alle waarskynlikheid is dit net Suid-Afrikaners wat verstaan dat wanneer jy sê “dip ‘n ouma”, jy nie bedoel om ‘n bejaarde vrou te onderdompel nie. Dié uitdrukking verwys natuurlik na die gedempte geplons wanneer ‘n beskuit in koffie of tee gedoop word.
Met Erfenisdagvieringe nog vars in die geheue kan vertel word dat die meer as ‘n miljoen stukkies beskuit soos wat Suid-Afrikaners daagliks verorber, as ‘n eg Suid-Afrikaanse voedselproduk beskou word. Hoewel dit spreekwoordelike wortels van byna 400 jaar gelede uit Europa het, is dit hier in Suid-Afrika aangepas en vir omstandighede hier vervolmaak.
Ouma-beskuit is ‘n handelsmerk wat sedert 1939 amptelik sinoniem met troos, samesyn en Suid-Afrikaanse tradisie is. Die storie van dié handelsnaam simboliseer wysheid, vernuf en entrepreneurskap wat Suid-Afrikaners vanuit moeilike omstandighede laat groei.
Toe Ouma Nannie Greyvenstein in 1939 ná die Groot Depressie begin karringmelkbeskuit bak in ‘n poging tot geldinsameling, het bestellings gou vermeerder. Dit kon nie aldag maklik gewees het nie, maar vandag is dit ‘n bekende handelsnaam en die sukses van een vrou se poging, bemoedig mense steeds vandag om met eerbare handewerk hul produkte as ‘n bron van inkomste te vervaardig en versprei.
Werd om te noem is dat ‘n seun van Ouma Nannie die een is wat die vervaardiging van Simba-skyfies in Suid-Afrika begin het. Tydens ‘n buitelandse reis is Leo aan “potato crisps” voorgestel, en met sy terugkeer is met variasies daarop begin eksperimenteer, met groot sukses.
Dié produk moes ‘n naam kry en Ouma Nannie wou dit na Leo vernoem en dit “Lion” noem. Maar “Lion matches” was reeds op die mark. Van die werkers was Swahili magtig, en hulle het die naam Simba voorgestel, ook met groot sukses.
Hoewel Simba nie harde aartappelskyfies uitgevind het nie, was Simba die eerste vervaardiger wat gegeurde skyfies gemaak het en het só dié mark oor die wêreld heen verander.
Wie ken nie die tamatiesous, kaas en uie, en sout en asyn tjips nie?
Ons in Suid-Afrika is ‘n reënboognasie, elk met sy eie erfenis. Maar iets so eenvoudig soos om beskuit te eet, of om ‘n pakkie harde skyfies te deel, is ons erfenis. In ‘n nederige pandokkie tot ‘n luukse herehuis brul Simba uit die koskas, en dip ons vir Ouma, of variasies daarvan.
Beskuit herinner ons dat ongeag verskille, ons almal na dieselfde warmte smag. Dit is ons gemeenskaplike erfenis, ‘n soet krummel van hoop of ‘n pikante soutigheid vir krag in ‘n dikwels komplekse land.
LEES OOK: Ons is regtig nie almal so nie, tog roer ons saam in die pot
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.


