LICHTENBURG – Die nuutste daad van vandalisme in Lichtenburg in die Noordwes-provinsie, waar die kop van die burgerfiguur op die Anglo-Boereoorlog-monument op die dorpsplein die afgelope naweek afgekap is, is deel van ’n jarelange patroon van verwaarlosing, diefstal, brandstigting en beskadiging van historiese bakens in dié dorp.
Dit te midde van ‘n onlangse verslag van Sabinet dat die Ditsobotla plaaslike munisipaliteit in Lichtenburg sinoniem geword het met munisipale disfunksie, onwettige gedrag en onbevoegdheid wat tot totale ineenstorting lei. Boonop toon die jongste data van Statistiek Suid-Afrika dat die Noordwes-provinsie se werkloosheidsyfer binne drie maande drasties gestyg het en dat slegs 30,6% van mense van werkende ouderdom in dié provinsie werk het.
Die nuutste voorval van vandalisme in Lichtenburg vorm deel van ’n groeiende lys historiese bakens wat oor jare heen beskadig, geplunder of vernietig is. Talle geboue wat uitsluitlik vir die gemeenskap se gebruik opgerig is, loop ook onder vandalisme deur.


Erfenisbakens loop deur
Volgens ‘n verklaring van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is die Ampie Bosman Kultuurhistoriese Museum in Oktober 2023 deur ’n brand verwoes, terwyl die stadsaal kort daarna dieselfde lot getref het. Die landboumuseum is veral gedurende 2024 herhaaldelik geteiken, met historiese voorwerpe en materiaal wat gesteel is. ’n Lokomotief op die terrein is boonop deur brand vernietig.
Die kop van generaal Koos de la Rey se borsbeeld op sy graf is in 2021 afgekap. Nadat die monument herstel is, is die vervangingskop volgens FAK in 2025 weer deur vandale afgekap. Op die dorpsplein is die bekende brons-ruiterstandbeeld van generaal De la Rey eweneens gevandaliseer toe ’n deel van die sweep afgesaag en gesteel is.
Verder is die Afrikaanse Taalmonument in die dorp beskadig nadat onder meer letters en die biddende hande gesteel is. Die 1938-Eeufeesmonument is ook reeds erg gevandaliseer.

Ditsobotla sinoniem met disfunksie, onbevoegdheid
Die Ditsobotla plaaslike munisipaliteit het in meer as ‘n dekade nie ‘n skoon oudit ontvang nie, en het tot nege jaar lank opeenvolgende vrywaringsouditmenings (die swakste moontlike gradering) aangeteken. Besteding aan herstelwerk en instandhouding is ongeveer 1% teenoor die vereiste nasionale norm van 8%, wat volgens Sabinet African Journals vinnige verval van munisipale bates veroorsaak.
LEES OOK: Treasury suspends transfers to 69 municipalities over financial mismanagement
Volgens die verslag het Ditsobotla sinoniem geword met munisipale disfunksie, onwettige gedrag en onbevoegdheid wat tot die totale ineenstorting daarvan lei. Die vlak van disfunksie wat Ditsobotla ervaar het nie oornag gebeur nie; dit is toegelaat om voort te gaan en te vererger. Dit is veroorsaak deur ‘n gebrek aan toesig van die provinsiale en nasionale regerings en swak instandhouding. Politieke onstabiliteit en magsgevegte, wat lank en oor jare reeds aanhou, het bygedra tot die verval van die munisipaliteit, aldus die verslag.
Noordwes se werkloosheidsyfer verhoog
Intussen toon die jongste data van Statistiek Suid-Afrika dat die Noordwes-provinsie se werkloosheidsyfer binne drie maande gestyg het en dat slegs 30,6% van mense van werkende ouderdom in die provinsie werk het.
Die Noordwes-provinsie word beskou as ‘n provinsie ryk met minerale neerslae, ‘n sterk mynbousektor, ‘n gevorderde landboubedryf, toerisme en strategiese vervoerroetes. Dit laat die vraag ontstaan waarom hierdie provinsie nie daarin geslaag het om werk vir die grootste deel van sy bevolking in die werkende ouderdom te skep nie, volgens ‘n berig op newsday.co.za.
Freddy Sonakile, ‘n lid van die Noordwes-provinsiale wetgewer, sê dat die swak toestand van dorpe en munisipaliteite deel van die probleem is.
LEES OOK: Godongwana sets strict conditions for 69 municipalities to unlock frozen funds
“Besighede kan nie floreer waar paaie verval, watervoorsiening en elektrisiteit onbetroubaar is en basiese dienste faal nie.” Hy voeg by dat munisipaliteite oor die provinsie heen sukkel om hul mees basiese funksies uit te voer en het struikelblokke in plaaslike ekonomiese ontwikkeling geword.
Sonakile sê dat die Noordwes-provinsie nie nog ‘n werksberaad of ‘n glansryke ekonomiese strategie nodig het om sy werkloosheidskrisis op te los nie, maar munisipaliteite wat werk, ‘n ekonomie wat groei, en ‘n regering waar die sukses van ‘n ekonomiese plan gemeet word aan of mense werk kan kry.
FAK versoek dringende betrokkenheid
Die FAK is reeds jare lank met die munisipaliteit in gesprek oor die toestand van die erfenisbakens in die gemeenskap. Volgens die FAK probeer die organisasie reeds sowat vyf jaar lank om die munisipaliteit te oorreed om daadwerklike maatreëls vir die beskerming en instandhouding van die dorp se erfenis te implementeer. Intussen het die situasie volgens die organisasie aansienlik versleg.
Barry Müller, die FAK se nasionale hoof van gemeenskap, geskiedenis en ad hoc-projekte, sê die voorvalle dui ten sterkste daarop dat die voortbestaan van erfenisbakens nie uitsluitlik in die staat se hande gelaat kan word nie.

Die organisasie doen ‘n beroep op inwoners, besighede, erfenisliefhebbers en oud-Lichtenburgers om ’n petisie te teken en deel te word van ’n georganiseerde gemeenskapsaksie om die Ditsobotla plaaslike munisipaliteit tot optrede te beweeg. Volgens Müller is die doel van die nuwe petisie nie bloot om nóg ’n lys handtekeninge saam te stel nie, maar om ’n gemeenskap te mobiliseer wat bereid is om prakties by die oplossing betrokke te raak.
“Jy hoef nie in Lichtenburg te woon om betrokke te wees nie. Jy kan die petisie teken, jou vaardighede aanbied, finansiële ondersteuning gee, as vrywilliger inspring of jou besigheid se hulp beskikbaar stel.
Die organisasie vra verder dat, indien die munisipaliteit nie oor die nodige kapasiteit, hulpbronne of vermoë beskik om bepaalde erfenisbates behoorlik te beskerm nie, ’n wettige proses oorweeg word waardeur dié bates aan ’n bevoegde erfenisbewaringsinstellings oorgedra of onder toepaslike veilige bewaring geplaas kan word.
Bykans die enigste prominente baken wat nog nie ernsige skade opgedoen het nie, is die De la Rey-ruiterstandbeeld, wat besondere aandag geniet. Die FAK het reeds aangebied om saam met die munisipaliteit en toepaslike erfenisowerhede na ’n wettige en praktiese oplossing vir die bewaring daarvan te soek.
Teken die petisie hier en staan saam met die FAK vir die bewaring van Lichtenburg se erfenis.





You must be logged in to post a comment.