Die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley beplan reeds en maak voorsiening daarvoor om die water wat by die Riverton-watersuiweringsaanlegte uit die Vaalrivier onttrek word, meer en meer in die toekoms vir besoedeling te behandel om dit tot standaardgraad drinkwater te suiwer.
Rivierwater wat onttrek word dra veral rioolvuil van munisipaliteite stroomop (Noord-wes, Gauteng en Mpumalanga) wat ongesuiwerde water in die rivier uitlaat.
Hoewel die huidige projek op herstel fokus, word daar reeds vir toekomstige tegnologieë soos osoon-behandeling beplan om hierdie besoedeling in die volgende 10 tot 15 jaar te hanteer.
Só het Thapelo Matlala, stadsbestuurder; Blessing Mokusi, stadsingenieur; en Ricus Rossow van Bigen Africa, die hoofkontrakteur wat die waterinfrastruktuur-herstelwerk ingevolge die Begrotingsfasiliteit vir Infrastruktuur-projek van R2,5 miljard behartig, tydens ‘n inspeksiebesoek aan Noord-Kaapse premier dr. Zamani Saul verduidelik.
Die ou en nuwe Riverton-aanlegte wat uit die laat 1940’s,1962 en 1970’s dateer se oorspronklike ontwerpkapasiteit word teruggebring deur grootskaalse herstelwerk aan geriewe, masjinerie en nuwe tegnologie. ’n Groot gedeelte van die begroting word ook aan die aankoop en indiensstelling van pompe en nuwe grootmaatwatertoevoerpyplyne bestee.
Fokus op waterbehoeftes vir volgende 50 jaar
Mokusi sê hulle neem die stad se waterbehoeftes vir die volgende 50 jaar in ag in hul beplanning.
“Sodra die herstelwerk oor drie jaar klaar aan die ou aanleg gedoen is wat 50 megaliter water per dag kan suiwer, en die nuwe aanleg (wat twee aanlegte beslaan) wat 110 megaliter water kan suiwer, sal ons nageslag genoeg water hê.”
LEES OOK: Noord-Kaapse premier maak ommekeer oor chaos by Sol Plaatje-munisipaliteit
Die projek is reeds twee jaar aan die gang. Die spanne gebruik die winterperiode, wanneer die vraag na water laer is, om filters uit diens te neem en intensiewe herstelwerk te doen voor die aanvraag in November weer styg.
Rossouw sê water uit die Vaalrivier moet verskeie suiweringsprosesse deurgaan voordat inwoners dit uit hul krane kan drink.
“Die Vaalrivier word al meer besoedel, en jaarliks moet meer geld aan prosesse bestee word om dit drinkbaar te maak.”
Aanlegte drasties opgeknap
Hulle is besig met grootskaalse herstelwerk en opgradering omdat die aanlegte wat oor die laaste dekades erg verwaarloos is – sommige gedeeltes is selfs uit diens geskakel.
“Ons moet die toevoerpyp van die Vaalrivier na die ou aanleg vervang sodat dit meer water kan bring. Die ou aanleg spog met nuwe pyplyne, pompe, masjinerie, toerusting en prosesse en kan reeds 34 megaliter per dag suiwer, maar die oogmerk is om dit binne weke tot op sy maksimum kapasiteit van 50 megaliter per dag te bring.
“Die ou aanleg moet soveel as moontlik water kan suiwer, sodat ons speling het om herstelwerk by die nuwe aanleg te doen. Byvoorbeeld, ou besinkingsdamme is oorgebou en toerusting vervang. Die oorspronklike siviele konstruksie van die besinkingsdamme is heeltemal goed, maar ons moet die masjinerie en brûe vervang.”
LEES OOK: Kimberley: Vordering met projek maak ‘waterbeurtkrag’ iets van die verlede
Die elektriese kontrolestelsels en beheerkamers is ook oorgebou.
Water word eerste uit die Vaalrivier onttrek, in houerdamme gehou, vandaar na die besinkingsdamme gepomp, dan na die filters en skoonwaterdamme gestuur, en uiteindelik na Kimberley na onder meer die Newton-opgaardamme gepomp. Watergehalte word ook voortdurend in ‘n laboratorium getoets.
Van die werk behels onder meer dat die filters in drie fases opgeknap word. Dit behels die uitspoel van “mossels” en ander materiaal wat binne-in gegroei het en die installering van nuwe spuitpunte.
Ou kleppe wat nie meer kon oop- of toemaak nie, word vervang. Die aktueerders wat voorheen buite werking was, is om die watervloei na die filters en die skoonwatertenks te beheer. Die chemiese dosering is ook baie meer effektief.
By die Newton-aanleg word opgaardamme en infrastruktuur waterdig gemaak, bestuurstelsels gemoderniseer om te verseker die water wat vanaf Riverton gepomp word, doeltreffend geberg en versprei word.





