Volgens Martha Bartlett, uitvoerende burgemeester van die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley, vorder die stad se massiewe waterinfrastruktuur-projek vinnig en is tasbare resultate vir inwoners voelbaar omdat min onbeplande en langdurige wateronderbrekings plaasvind, anders as in die verlede.
Sy het Dinsdag tydens ‘n amptelike besoek aan die Riverton-watersuiweringsaanleg bevestig dat daar sedert die implementering van die Begrotingsfasiliteit vir Infrastruktuur (BFI)-toelaag in April 2024 reeds R1,009 miljard van die totale R2,5 miljard bestee is.

“Die projek is daarop gemik om watergehalte te verbeter, produksiekapasiteit te verhoog en aan te hou om waterverliese te verminder van 37% na minder as 15%. Voorheen was waterverliese soveel soos 60%.
“Nagtelike waterafsluitings is nou net ‘n herinnering en die afgelope somer was daar ook bitter min wateronderbrekings.”
Die oogmerk van die projek is die modernisering van die twee Riverton-watersuiweringsaanlegte. Die ou aanleg wat in die laat 1940’s gebou is, se herstelwerk sluit in kragtoevoer teen R47 miljoen, asook ‘n R95 miljoen-belegging in chloordosering, filters en beheerinstrumente om “kristalhelder water” te verseker.
By die nuwe Riverton-aanleg word filters en besinkingdamme opgeknap en chemiese doseringstelsels van R40 miljoen is reeds voltooi.
“Die sekuriteit by albei aanlegte het voorkeur gekry en hoëtegnologie-kameras en nuwe omheining is in werking gestel.”
LEES OOK: Noord-Kaapse premier maak ommekeer oor chaos by Sol Plaatje-munisipaliteit
Projek lewer werksgeleenthede
Een van die grootste aspekte van die projek is die inwerkingstelling van ‘n nuwe 33 kilometer-grootmaatpyplyn van Riverton na die stad. Hoewel die kontrakteur nog aangestel moet word, is al die pypmateriaal reeds aangekoop en afgelewer.
“By die Newton-opgaardamme in die stad is drie van die damme reeds met nuwe kleppe toegerus. Die 102-megaliter opgaardam word op Saterdag 27 Junie met drie nuwe kleppe voorsien. Inwoners moet water vooraf opgaar vir noodsaaklike gebruik.”
Die projek lewer ook werksgeleenthede.
“Sowat 454 plaaslike arbeiders het reeds werk gekry, met ’n uiteindelike teiken van 1 000 werksgeleenthede. Verder is 66 plaaslike opkomende subkontrakteurs aangestel, met die klem om meer vroue by die projek te betrek.”
Om verbruikersvertroue te herstel het die munisipaliteit reeds 6 750 nuwe watermeters in diens gestel as deel van ’n program om uiteindelik 16 000 meters te vervang.
“Dit sal help met akkurate berekeninge en sal verbruikers aanmoedig om vir dienste te betaal.
“Ons uiteindelike doel is om die Sol Plaatje-munisipaliteit se Bloudruppel-status wat 16 jaar gelede bo 90% was terug te kry,” sê Bartlett.
LEES OOK: ‘Dinge gebeur in Riverton’ om watersekerheid te bevorder






You must be logged in to post a comment.