Met ‘n liefde en aanvoeling vir kos wat in ouma en ma se kospotte begin het, is die beoordelaars van die nuwe seisoen van Kokkedoor in afwagting om te sien wat deelnemers van Kokkedoor: Klassiek met die land se ryk erfenis van onthouresepte gaan doen.
KykNET het Vrydag aangekondig dat Herman Lensing en Jess van Dyk die beoordelaars van Kokkedoor: Klassiek is, en albei dié beoordelaars het ‘n goeie skeut Noord-Kaapse sout in hul are met Herman wat in Upington grootgeword het, en Jess in Kuruman.

Behalwe dat die gewilde koswerklikheidsreeks ’n klassieke baadjie in die nuwe seisoen aantrek en deelnemers wil inspireer om onthouresepte deeglik met ‘n knippie oud en ‘n skeutjie nuut te meng, is daar ‘n miljoen ander redes om in te skryf: ‘n volle R1 miljoen se prysgeld vir die wenners. En om aan die gesogte Goue Haan ‘n nuwe tuiste te bied.
In ‘n verklaring word genoem dat Kokkedoor: Klassiek ‘n platform propvol uitdagings bied wat deelnemers se vaardighede voor die stoof met rasse skrede gaan verbeter en hulle die geleentheid gaan kry om hulself te oortref.
LEES OOK: Kokkedoor: Son & See – nuwe seisoen met unieke inskrywings
“Onder die bekwame leiding van ervare, bekende kosmense gaan hierdie die kulinêre avontuur van ’n leeftyd wees. Deelnemers gaan nuwe vriende maak, nuwe tegnieke leer en die geleentheid kry om te wys hoe hulle met enige gereg kan toor,” sê organiseerders en nooi voornemende deelnemers uit om nou in te skryf.
‘Geliefde bekende’ as beoordelaar
Die 39-jarige Herman is so deel van die Suid-Afrikaanse koswêreld soos kaneelsuiker en ’n warm pannekoek op ’n reënerige dag.
Vra hom watter geregte hy met Noord-Kaapse kookkuns vereenselwig, is sy antwoord: “Skuinskoek en staanrib sonder om twee keer te dink. Dis vir my die eerlikste vorm van kos en geduld,” sê hy. Herman het in Upington grootgeword en aan die Hoërskool Duineveld matrikuleer. Herman se pa, Harry Lensing, woon nog in Upington.
Dié kosskrywer, tydskrif-redakteur en TV-persoonlikheid het sy liefde vir kos by sy ma gekry en baie jare het in die koswêreld verloop sedert hy op 22-jarige ouderdom, kort ná hy as sjef by die Institute of Cullinary Arts in Stellenbosch gekwalifiseer het, as die kosredakeur van die tydskrif Sarie aangestel is.
Vandag, met talle topverkoperkookboeke, eerbewyse en erkennings op sy kerfstok, is hy een van die land se invloedrykste en mees geliefde ster-kokke.
Herman was ook ’n beoordelaar vir die onlangse Kokkedoor: Son & see, die tiende seisoen van die reeks wat deur die mense van Aberdeen se Kamdebo Padstal gewen is: Hanna van der Westhuizen en haar seun, Dirk.
Saam met die klassiek, ’n vars nuwe briesie
Kosfoendies raak opgewonde wanneer jy die naam Jess van Dyk noem. Dié 35-jarige oudleerder van die Hoërskool Kalahari in Kuruman is deesdae die hoofsjef en eienaar van Post & Pepper-restaurant wat in 2022 sy deure in Stellenbosch oopgemaak het. Dit is ’n intieme restaurant wat haar eie kookfilosofie weerspieël: bestanddeelgerigte kos, tegniese presisie en warm, deurdagte gasvryheid.
Wanneer sy aan kos uit die Noord-Kaap dink, is dit Angus-slaghuis se Club Steak op die braai, of basaarkerrie, sosaties en skaaptjops. Haar ouers, Dion en Lynn van Dyk, het verlede jaar die huis waarin sy in Kuruman grootgeword het, verkoop en Wes-Kaap toe verhuis, maar Jess het steeds ander familie en vriende in die Noord-Kaap.
Sy het ’n diepe waardering vir “klassieke” kosmense soos Nigella Lawson, Rick Stein en Gary Rhodes. In haar indrukwekkende loopbaan het sy al by verskeie veelbekroonde restaurante gewerk, soos La Colombe naby Constantia, waar sy in 2012 ná haar studies aan die vooraanstaande Silwood-sjefskool begin werk het. Hier het sy later die sous-sjef en uiteindelik die hoofsjef geword.
Die La Colombe-restaurantgroep het haar in 2019 as hoofsjef by die Protégé-restaurant in Franschhoek aangestel, en sy was deel van die span wat La Colombe na Silvermist geskuif het.
Stilsit is nie in haar gene nie. Jess was ook vir ’n jaar lank ’n privaatsjef op ’n luukse seiljag in die Mediterreense-see.
Dís hoekom Herman dink jy moet inskryf
“Ons koserfenis is ’n ryk skatkis van onthouresepte en stories wat jy nêrens anders in die wêreld kry soos hier in Suid-Afrika nie, en met Kokkedoor: Klassiek wil ons daardie stories en resepte van nuuts af vier.
“Dis sonder twyfel dat kos ons saambring en verenig, en met hierdie seisoen wil ons dit wat ons uniek maak, weer met kos vier.
“Vernuwing is immers die sleutelbestanddeel vir die voortbou op en ontwikkeling van ons koserfenis.
“Mense moet onthou dat Kokkedoor nie net vir die ervare sjefs is nie, maar ook vir die tannies, ooms en ouer garde wat weet hoe Suid-Afrikaanse kos moet smaak en ook graag hul kosmaak-ervarings en herinneringe met ander deel. Dit is in hul hande waar die DNS van onthoukos skuil.
“Ek is bitter opgewonde oor die nuwe onthou- en kinkelkokke wat ons nog gaan ontmoet, want Suid-Afrikaanse kos is hoe ek asemhaal.
“Ons wil jou unieke persoonlikheid raaksien met jou inskrywing – en natuurlik moet jy ook goeie kos kan maak.”
Wat dit vir Jess beteken om ’n beoordelaar te wees
“Net soos elke voornemende deelnemer is ek kinderlik opgewonde en op my senuwees, want hierdie is net so ’n ongelooflike geleentheid vir my ook.
“My liefde vir kos het begin by my ouma se kospotte, maar dit het veral vlamgevat toe ek BBC Food se sjefs op die kassie leer ken het.
“Toe begin ek om daagliks ná skool ‘TV-broodjies’ of bloot net tuna melt in ons kombuis te maak. Ek het bakkies met gekerfde uie, mosterd en alles en nog wat uitgesit, nes die TV-sjefs dit gedoen het, en dan het ek stap vir stap die proses voor ’n kammakamera verduidelik.
“Om nou ’n Kokkedoor-beoordelaar te wees, is werklik ’n volsirkel-oomblik vir my. Nog voordat ek geweet het van Michelin-sterre en die wêreld se top-50-restaurante het ek daarvan gedroom om op TV met kos te kan werk. En hier is ons nou!
“Ons het ’n baie ryk geskiedenis van besonderse kosstories in ons land en huise, en as ons dit nie vertel en deel nie, gaan dit verlore raak.”
Sy is ook van mening dat min dinge so spesiaal is soos om jou familieresep op nasionale televisie te deel.
“Ons wil al die boererate, kitswenke en lekkernye sien en by jou leer – dit is bietjie van die oud gemeng met bietjie van die nuut.”
Wat om te weet as jy wil inskryf
- Kry die inskrywingsvorm by kyknet.tv of stuur ’n e-pos aan navrae@kokkedoor.tv
- Sluitingsdatum vir inskrywings: 12 Julie
- Jy moet ten minste 18 jaar oud wees op die dag van die oudisie
- Net Suid-Afrikaanse of Namibiese burgers met ’n geldige ID-dokument kan inskryf
- Jy kan nie as deel van ’n span inskryf nie
- Oudisies sal van 13 tot 17 Julie in Kaapstad gehou word
- Bygewerk, Helena Barnard



You must be logged in to post a comment.