Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

Onlangs in ‘n werksessie waar ons werk aan die ontwikkeling van vaardighede by personeel, word ek gebring voor ‘n baie interessante onderwerp.

Ons begin gesels oor hoe maklik dit is om maklike mense te hanteer en hoe uitdagend dit kan wees om moeilike mense te hanteer.

Maar wanneer is iemand moeilik? Is party mense net moeiliker as ander? Is daar mense waarmee ‘n mens makliker ‘n pad loop as ander? Het dit te doen met persoonlikhede, waardes, integriteit, opvoeding?

Ons gesels lekker wyd en lank en diep oor verskillende geaardhede, gebrokenheid by ons almal, die nietigheid van elke mens.

Ons begin spekuleer oor wie die heel moeilikste mens is om mee te werk.

Dit is ‘n baie knap, bekwame jong leier wat opstaan en die gesprek in ‘n rigting stuur.

Hy sê vir hom is die moeilikste mens om mee te werk, dié wat gelowig en baie getrou kan bid: Laat U wil geskied; maar dan daarop aandring dat hul eie wil geskied.

Hy verduidelik hy sukkel met mense wie se wil moet geskied.

Wat vroom maak asof dit nie so is nie; maar wat nie toegee nie, wat nie ophou, wat nie terugstaan voor ‘n eie wil geskied het nie.

Dit is vir hom die moeilikste mens om mee te werk.

Ons begin daaroor dink en beredeneer en kom elke keer by dieselfde punt uit: ‘n Kwaai mens kan ‘n mens bestuur; iemand wat sy of haar eie gebrokenheid besef, kan ‘n mens mee saamwerk; iemand wat nie al die gawes het nie kan ‘n mens leer; maar iemand wie se wil die alfa en die omega geword het, is ‘n baie moeilike mens om mee te werk.

Kan jy jou wil buig voor ‘n ander, kan jy terugstaan, of moet jou wil altyd geskied, tot elke prys?

Nogal ‘n interessante vraag. Kan jy toegee ter wille van ‘n saak, ‘n mens, ‘n ander, vir vrede. Of moet jy wen? Moet jy jou sin kry?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article