Glynnis Breytenbach: ‘ANC gaan steeds verloor, ondanks uitspraak van Grondwethof’

Glynnis Breytenbach, DA-LP praat met party-ondersteunerts in Kimberley. Foto: Charné Kemp
Glynnis Breytenbach, DA-LP praat met party-ondersteuners in Kimberley. FOTO: Charné Kemp

Glynnis Breytenbach: ‘ANC gaan steeds verloor, ondanks uitspraak van Grondwethof’


KIMBERLEY – Glynnis Breytenbach, DA-LP, het Donderdag 15 Oktober in Kimberley, haar geboortedorp, tydens ’n vergadering met partylede op die vooraand van die komende munisipale verkiesing gesê al het die ANC hul regstryd teen die Verkiesingskommissie in die Grondwethof gewen om hul 181 kandidate weer op die stembrief te plaas, is die “ANC se tyd verby”.

“Dis te laat vir die ANC, hulle gaan nie by die stembus seëvier nie. Die hele Suid-Afrika sien op TV met die uitsending van die Madlanga Kommissie van Ondersoek na misdadigheid in strafregstelsel wat die ANC-regering se 32 jaar se kaderontplooiing aan die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gedoen het.

Glynnis Breytenbach, DA-LP, Lisa Schikerling, DA-LP en Noord-Kaapse voorsitter en Heinrich Pieterse,
Glynnis Breytenbach, DA-LP, Lisa Schickerling, DA-LP en Noord-Kaapse voorsitter en Heinrich Pieterse, DA-burgemeesterskandidaat vir Kimberley. FOTO: Charné Kemp

“Die polisie en die NVG is met opset en strategies deur kaders gevul wat die regstelsel verswak het sodat misdadigheid onder hooggeplaastes ongesiens gebeur. Dit is werklik neerdrukkend om by die kommissiesittings te sien hoe die polisie van bo tot onder verrot is. Swak prestasie word skynbaar nooit gestraf nie, net beloon.

“Ek moet ook bysê daar is baie goeie polisielede wat werklik die burgers wil dien en hulle teen misdaad, roof, verkragting en ander geweldsmisdade wil beskerm.

“Hoe is dit moontlik dat ons land 47 polisiegeneraals wat ruim salarisse, polisiebeskerming en ander voordele verdien, benodig? Dit, terwyl ons nie genoeg polisielede op die grond het wat werkende voertuie het om burgers teen misdaad te beskerm nie. Elkeen van ons het al onder misdaad gely, ken iemand, dalk ʼn pa ma broer of suster, wat vermoor is.

“Dit is hoekom ons land die verandering wat die DA wil bring, dringend benodig. Elke tree wat ons gee om wanorde te beveg, is ʼn stap vorentoe. Ons wil die NVG en polisie herstruktureer en herbelyn, sodat elke lid weer met trots kan dien. Daar is te veel base en te min Klase.

“Ons tronke is oorvol, omdat die oorsaak van misdaad in die gemeenskap opgelos moet word. Ons moet ons kinders leer van respek, verantwoordelikhede, van etiese waardes en harde werk. Geweld kan nie probleme oplos nie. Beter opvoeding sal die las op die polisie, die NVG en Korrektiewe Dienste met hul oorvol tronke verlig.”

LEES OOK: ANC secures last-minute ballot victory as ConCourt overturns candidate list dispute

Diep slaggate op die hoek van Cecil Susmansstraat en Phakamile Mabijaweg
Diep slaggate op die hoek van Cecil Sussmanstraat en Phakamile Mabijaweg op die N12-roete in Kimberley wat die afgelope maande motoriste en vragmotorbestuurders dwing om uit te swenk.

‘Kan nie die verlede verander nie’

Sy sê die mees onlangse aanstelling van nuwe jong bekwame regters is bemoedigend.

“Mense wat weens die apartheid-verlede nie vir die DA wil stem nie, moet eerder na die toekoms kyk. “Ek het baie empatie en simpatie met die onreg wat aan mense gedoen is, ons kan nie die verlede verander nie. Ons kan wel saam aan ʼn toekoms werk waarin elke mens in waardigheid lewe. Die DA se diensrekord spreek vir homself. Die mense wat in nedersettings in Kaapstad in onvoldoende omstandighede bly, is steeds beter af as mense wat in Johannesburg probeer leef. Kyk net watter verskil het die DA destyds aan die tanende Kaapstad gedoen toe hulle beheer geneem het, ʼn stad wat deesdae die juweel in die kroon is.

“Die DA hou amptenare verantwoordbaar, en ons as LP’s werk vir julle, nie andersom nie. Ons is dankbaar vir elke stem en vra kiesers om ons te vertrou sodat ons kan wys wat ons kan vermag.”

Beter lewe vir elke inwoner belowe

Heinrich Pieterse, DA-burgemeesterskandidaat vir die Sol Plaatje-munisipaliteit, sê daar werk 18 betaalde amptenare in die burgemeester en speaker se kantoor. “Wat doen die klomp elke dag? Ons sal die getal beslis verminder en die pligte van elke werker herbesin sodat hulle ingespan word waar dringende werk gedoen moet word.

“Die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan is die hoof-vyfjaar-strategiese plan wat elke munisipaliteit in Suid-Afrika wetlik verplig is om op te stel. Ons sal verseker dat dit elke inwoners se lewe verander.

“Die DA het met volgehoue druk verseker dat die LUR se besluit om die munisipaliteit onder administrasie te plaas, laat vaar is, en die waarnemende stadsbestuurder ook laat gaan is. Ons is besig met ‘n ondersoek na ongerymdhede met besteding aan die einde van 2025.

“Ons gaan dienste verbeter ten opsigte van elektrisiteit en water, en sanitasie verseker. Ons werk altyd hard om probleme op te los, want inwoners van ander partye se wyke nader ons om hulp, en ons help hulle altyd,” sê hy.

Verandering ook vir Kathu, Hantam, Springbok

Lisa Schickerling, provinsiale voorsitter, sê hulle is vol vertroue dat Henriëtte du Plessis Kathu se nuwe burgemeester in die Gamagara-munisipaliteit gaan word.

“Vir die drie maande wat sy ʼn paar jaar gelede die DA-burgemeester was, het sy die onmoontlike vermag en ʼn positiewe bankbalans gelaat wat intussen deur die koalisie van die ANC en EFF onreëlmatig bestee is. Sy en haar span het die afgelope vyf jaar onophoudelik gewerk en dit is deur hulle toedoen en met die samewerking van groot besighede dat Kathu skoon is, die strate padtekens het en dienslewering verbeter het. Kiesers sien dit raak.”

Schickerling meen haar party gaan net so goed in die Hantam- en Springbok-munisipaliteit vaar.

“Mense moenie vir klein partye stem nie. Hulle rapporteer net aan hulself en is nie gebonde aan streng partybeleide nie, en uiteindelik word hulle deur die ANC in ʼn hoek gedruk om ʼn koalisie te vorm, ter wille van die ANC met gepaardgaande swak dienslewering.

“En as jy dink DA-wyke ly waar die ANC-beheerde raad wat om politieke redes nie graag dienste wil lewer nie, kyk na ANC-wyke soos Roodepan waar elke straat slaggate het en die straatligte nie werk nie en rioolwater oral vloei. Stem vir verandering.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article