Vanoggend voel vir my soos Sondae op die plaas altyd gevoel het.
Ek oornag op ‘n plaas net buite Oudtshoorn en dit is mooi van vroegoggend af.
Op die plaas het ma altyd gesê die ganse skepping weet dit is tyd vir ‘n bietjie rus.
Sy sou opmerk: “Kyk, selfs die windpomp draai nie eens vanoggend nie”, maar ek het jongs al besef dit lyk maar net so omdat ons self ook almal rustiger is.
Natuurlik moes daar gemelk word en diere moes kosgegee word, ons moet betyds klaar wees vir kerk, maar daarna was Sondag.
Sondae was lekker en spesiaal. Sondae sien jy die diere onder die bome lê, jy sien die windpomp staan, jy weet daar gaan laatmiddag rustig waatlemoen onder die boom gesny word en jy weet iewers vandag gaan ma haar Peperment Crisp-tert uithaal.
Ja, sou pa sê, Sondag is Sondag. Dit is asof die bekommernis van die week minder is, asof die gejaag so ‘n oomblik nagelaat word en asof almal en alles net bietjie oorbegin.
Oom Daan sou opmerk: “So begin ‘n nuwe week met nuwe dinge” en dan sou hy rustig sy koffie roer, nog ‘n uur onder die boom sit en sommer net kuier.
Ons het nie selfone gehad nie, sommer die ou draai plaastelefoon en selfs dié het op ‘n Sondag minder gelui as ander dae. As hy lui sou iemand vra: “Wie bel dan nou op ‘n Sondag?”
So, as ons so onder die boom gesit het, het ons gesit. As ons gelê het, het ons gelê. As ons gaan stap het, het ons gaan stap.
Vanoggend dink ek weer aan hoe belangrik dit is om soms net ‘n dag te stop.
So is dit mos ingeskape in die skepping in. ‘n Mens is nie gemaak om net aan en aan te gaan nie. Dit is nodig om bietjie te stop en jou te verwonder. Te verwonder oor die wonder van lewe.
- Lees nog rubrieke hier.


