POTPOURRI | Vervanging van stukkende vrieskas bring sy eie klein dramatjies

Karin Muller
Karin Muller. FOTO: Verskaf

Ons vrieskas, wat vir baie jare getroue diens gelewer het, het onlangs gebreek.

Oornag tot stilstand geruk. Kapoet.

Dié kombuisapparaat of enige ander huishoudelike apparaat het nie goeie tydsberekening as dit by breek kom nie.

Dit voel altyd asof dit net nog ‘n jaar of twee kon werk.

Om ‘n nuwe vrieskas te bekom is, om verskillende redes, traumaties. Elektriese toestelle, soos alles, raak net duurder en duurder. Dit is die eerste deel van die trauma. Jou eie begroting teenoor wat dit werklik kos.

As jy nie jou eie bakkie besit nie, moet jy vir aflewering reël. Dit is ook traumaties.

Aflewering kos geld. Dit is te verstane, maar dit is ook nie by jou begroting ingesluit nie.

Jy moet ‘n spesifieke tyd vir die aflewering reël om seker te maak dat iemand tuis is wat gaan rangeer dat die nuwe vrieskas op die ou een se plek staangemaak word.

Dan kom die volgende traumatiese deel. Die mense wat die nuwe vrieskas aflewer verduidelik vriendelik dat hulle nie die ou vrieskas kan of mag saamneem nie.

Dit moes ook iewers gereël gewees het. Nie nou nie. Vroeër. Op skrif.

Met plek vir een vrieskas, besit jy nou twee.

Soos gister, toe jy die nuwe vrieskas gaan koop het, het jy vandag ook nie jou eie bakkie nie.

Jy wens jy het ‘n bakkie gehad. Jy wens die vrieskas het nie gebreek nie. Jy wens jy het meer geld in die bank gehad. Wens. Wens. Wens.

Dit gaan jou nêrens bring nie.

Gelukkig het iemand met ‘n bakkie en ‘n goeie hart ons pad gekruis wat ons probleem letterlik en figuurlik verwyder het.

Die nuwe vrieskas is op sy plek. Al die trauma is vergete.

Totdat hierdie vrieskas ook, waarskynlik op die onmoontlikste tyd, gaan breek.

Want, uiteindelik, hou niks vir altyd nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article