Ek gesels onlangs met iemand wat baie deur die bek-en-klouseer-kwessie gekwel word. Hy vertel van hul planne om hierdie uitdaging te probeer vryspring. Dit behels baie tyd en geld en mannekrag.
Ek herkou ‘n oomblik aan hierdie krisis en die moontlike oplossings daaraan verbonde.
“Dit voel vir my asof die kieme en virusse en ander goggas slimmer word,” skerts ek.
“Dit is die een probleem,” erken hy. “Die ander probleem is dat die mensdom dommer word.”
Daar steek waarheid in hierdie stelling.
‘n Algemene praktisyn het verlede week dieselfde onderwerp aangeraak.
“As jy eers in diepte kyk na hoe die kieme en virusse en bakterieë planne maak en aanpas om te oorleef, sal jy verstom staan,” sê hy. “Dit is baie interessant.”
Dit maak sin.
Die mensdom maak ook planne en pas aan om te probeer oorleef.
As daar ‘n tekort aan elektrisiteit is, word ‘n sekere soort plan beraam. As daar ‘n tekort aan water is, word ‘n ander soort plan beraam. As ‘n pad so vol slaggate is dat dit skade aan ons voertuie gaan veroorsaak, verander ons van roete. Selfs al beteken dit ons moet vroeër opstaan en verder ry.
Ons maak planne terwyl ons aanpas. Ons pas aan terwyl ons planne maak.
Dit voel soms asof ons te vinnig aanpas. Te vinnig planne maak. Asof ons ‘n oomblik tot stilstand moet kom en sê: “Dié is onaanvaarbaar. Tot hiertoe en nie verder nie.”
Ons sê dit, maar dalk nie gereeld genoeg terwyl ‘n menigte mense saamstaan nie.
As die mensdom wel dommer word en goggas slimmer, gaan ‘n tyd aanbreek dat die balans heeltemal omvergegooi word.
Tot dan gaan ons planne maak terwyl ons aanpas en aanpas terwyl ons planne maak.
- Lees nog rubrieke hier.




