POTPOURRI | Planne dalk onderstebo gegooi, maar nie altyd deur jou toedoen

Planne verander
Planne verander, maar nie altyd deur jou toedoen nie. FOTO: Unsplash / Donald Merrill

POTPOURRI | Planne dalk onderstebo gegooi, maar nie altyd deur jou toedoen


Iemand wat ek geken het, het gesê dit is jou eie skuld as dit met jou sleg gaan.

Ek stem nie saam nie. In baie gevalle is dit ander mense se besluite wat ‘n direkte negatiewe invloed op jou lewe het.

Die eerste skoolvakansie van hierdie jaar is om die draai. So ook Paasnaweek. Vir die meeste mense beteken dit ‘n langnaweek van wegbreek en asemskep. Dit voel egter of dreigende brandstofprysverhogings vraagtekens oor hierdie jaar se Paasnaweek laat hang.

Vorige jare het mense opgewonde hul planne vir Paasnaweek met ander gedeel. See toe. Rivier toe. Ouma toe. Wildtuin toe. Vanjaar klink hulle effens onseker.

Stygende brandstofpryse beïnvloed nie net diegene wat lang afstande aflê nie. Dit beïnvloed almal en alles. Stropers wat landbougewasse oes, gebruik brandstof. ‘n Verskeidenheid masjinerie gebruik brandstof. Vragmotors wat produkte vervoer, gebruik brandstof. Vliegtuie gebruik brandstof.

Alledaagse gebruiksgoedere, kos en klere se pryse skiet die hoogte in. Dit wat verbruikers tot dusver met meet en pas kon koop om te oorleef raak nou ‘n groter uitdaging om te bekostig.

Tot waar kan ‘n mens meet en pas om liggaam en siel bymekaar te hou?

Terwyl Paasnaweek ‘n wortel-voor-die-neus-naweek was om ‘n blaaskans te kry, gaan baie mense se planne nie uitwerk soos wat hulle oorspronklik voorsien het nie. Sommige mense gaan waarskynlik korter afstande aflê, of tuis bly. Ander mense gaan oë toeknyp en met hul planne deurdruk asof daar geen krisis op die horison lê en loer nie.

Om asem te skep is belangrik. Selfs al skep ‘n mens nie asem soos jy gehoop het of reeds aan gewoond is nie.

Vir diegene wat wel Paasnaweek kan wegbreek: Geniet dit, en wees veilig. Vir diegene wat hul planne moes aanpas en afskaal: Hou moed, dalk is daar later in die jaar ‘n geleentheid hiervoor.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article