Die magstryd binne die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley het brandpunt bereik nadat ‘n spesiale raadsvergadering waar Bently Vass, Noord-Kaapse LUR vir samewerkende regering (Coghsta), met raadslede sou vergader in wanorde geëindig het en Vass met administrasie dreig.
In reaksie op die spesiale raadsvergadering op 12 Maart het Vass ‘n formele direktief ingevolge Artikel 139 (1) (a) van die Grondwet uitgereik wat die munisipaliteit met administrasie en ontbinding van die raad dreig.
In sy skriftelike direktief is die LUR teleurgestel oor die gebrek aan regsgeldige besluite. Hy beskryf die beweerde “wetlike” besluite om Thapelo Matlala, stadsbestuurder, weer te skors of ‘n waarnemende bestuurder aan te stel as “onwaarskynlik” en sonder feitelike basis.
Die raad word in die direktief beveel om ‘n spesiale vergadering te hou om die chaos rondom die stadsbestuurder se posisie eindelik te besleg.
Intussen moet die konsep- Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) en -begroting moet voor die einde van Maart goedgekeur word, en dissiplinêre stappe sal ingestel word teen raadslede wat vergaderings ontwrig deur uit te stap.
Die munisipaliteit het 14 werksdae om aan die opdragte gehoor te gee en moet teen 2 April bewys daarvan lewer. In die geval van versuim sal die provinsiale regering met Artikel 139 (1) (a) voortgaan, wat sou beteken dat die munisipaliteit onder direkte administrasie geplaas word of dat die raad in geheel ontbind.
LEES OOK: Sol Plaatje-krisis: Opposisiepartye wil ondersoek teen speaker laat doen
“Die mense van Sol Plaatje verdien ‘n stabiele, funksionele en bekwame munisipaliteit,” sê Vass.
“Politieke verskille mag nooit ten koste van die inwoners inspeel nie.”
Die vorige raadsvergadering, wat bedoel was om die munisipaliteit te versterk, moes laat vaar word nadat raadslede dit twee keer onderbreek het.
Vass het sy “uiterste teleurstelling” uitgespreek oor die ineenstorting van die verrigtinge.
Amptelike ondersoek na speaker versoek
Johan Smit, VF Plus-raadslid, sê hulle herhaal hul eis vir ‘n amptelike ondersoek na speaker Dipuo Peters weens haar beweerde aandeel in die ontstaan van die krisis.
Volgens die VF Plus wentel die hele debakel om ‘n magstryd tussen Peters en burgemeester Martha Bartlett aan die een kant, en Matlala aan die ander kant. Die krisis spruit uit die skorsing van Matlala verlede jaar. Hoewel die hof sy skorsing reeds as onreëlmatig ter syde gestel het, is sy kantoorslotte verander om hom uit te hou.
Peters en Bartlett moes reeds in die hof toegee dat hul pogings om hom te skors onreëlmatig was. Die hof het die twee ampsdraers met kostebevele in hul persoonlike hoedanigheid gestraf.
Desondanks duur die regstryd voort met nuwe appèlaansoeke, wat volgens opposisiepartye reeds miljoene rand beloop sonder dat die raad dit formeel goedgekeur het.





