Demokrasie of te nie, ‘n mens het gereeld die behoefte om ‘n vloermoer te gooi oor alles wat onder die vaandel van demokrasie gepleeg word.
In bykans elke dorp en stad in Suid-Afrika is tekens van swak dienslewering oorheersend.
Effens skuldig wonder jy: Is die slaggate, geen padtekens, oorgroeide sypaadjies en stormafvoerslote, stukkende verkeersligte, onafgehaalde en onwelriekende swart sakke, lekkende waterpype, riool wat oorstroom, omgeryde straatligte, verwaarloosde openbare ruimtes, en nog meer, werklik so erg?
Jy wonder of dit nie net jou sin vir orde en netheid is wat maak dat jy hierdie aspekte met pyn en lyding aanskou nie.
Daarom voel jy uiters dankbaar om in verskeie dokumente te lees dat doeltreffende dienslewering ‘n grondbeginsel van ‘n suksesvolle, stabiele demokrasie is.
Demokrasie word gewoonlik eerste in dieselfde asem as “vrye en regverdige verkiesings” genoem, maar die haalbaarheid daarvan op die duur hang af van die vermoë om tasbare dienste soos water, elektrisiteit, sanitasie, behuising en gesondheidsorg aan burgers te lewer.
Die uiteindelike doel van demokrasie is om die lewe van sy burgers te verbeter, in noodsaaklike menslike behoeftes te voorsien en ongelykheid te verminder.
Op Good Governance Africa verwys Lonwabo Patrick Kulati na Omano Edigheji se boek, Nigeria, Democracy without Development: How to fix it.
Edigheji skryf: ” ‘n Demokrasie wat nie in staat is om sosio-ekonomiese voordele te lewer nie, sal in maatskaplike en politieke onstabiliteit beland… Demokrasie beteken, eenvoudig gestel, ontwikkeling – sodat ‘n land waarin mense honger ly, nie ‘n demokrasie is nie.”
Volgens ‘n dokument van Afrobarometer Network is verkiesings op hul eie nie genoeg om die lewe van mense te verbeter nie. Die direkteur van politieke sake van die Afrika-unie, Kabele Matlosa, skryf mense eet nie demokrasie nie.
“Mense eet kos… Afrika het nie demokrasie nodig ter wille van demokrasie nie. Afrika het demokrasie nodig vir voedsel en ter wille van ontwikkeling.”
Hierdie ontwikkeling wat verlang word, vereis dat regerings hulpbronne toewys om openbare infrastruktuur te verbeter en tenderbedrog en korrupsie uit te skakel. Gekwalifiseerde maatskappye moet die werk kry en projekte binne die omvang, begroting en tydspesifikasies lewer.
Te danke aan al die woorde besef jy jou gevoel is reg: Dié swak dienslewering is nié demokrasie nie, want dit wat jy elke dag waarneem, is afbreek en allermins ontwikkeling.



