anonymous hacker with on laptop in white room
Kapers van aanlyn-inligting bring konsternasie. FOTO: Nikita Belokhonov / pexels.com

Iemand het my onlangs laat weet dat een van die sosiale media-apps wat ek gebruik, gekaap is. Blykbaar is ek besig om kripto-geldeenhede aan die kontakte op my selfoon te verkwansel.

“Die boodskappe klink nie soos jy nie,” sê hy.

By nadere ondersoek sou ek sien dat die mense wat met hierdie ongeruimdhede besig is hulleself in Finland en Nigerië bevind. Finland en Nigerië. Twee lande se name wat nie normaalweg in dieselfde sin gebruik word nie.

Ek het paniekerig begin raak toe ek nie daarin kon slaag om hul sessies te beëindig nie. ‘n Magteloosheid het oor my gespoel.

Die hele beginsel is vir my vreemd. Is daar mense wat wel op so ‘n manier ‘n kripto-geldeenheid sal koop? Of vir iemand geld sal gee?

Die gemiddelde mens ken tog die kontakte op sy of haar selfoon. Selfs al ken jy hulle nie in persoon nie, weet jy tog hoe hulle klink.

As ek ‘n sin met “Haai” begin behoort my kontakte tog dadelik onraad te vermoed.

Met behulp van ‘n barmhartige samaritaan kon ek my rekening heeltemal uitvee en ‘n nuwe rekening met groter sekuriteitsmaatreëls skep. Hoe groter die sekuriteitsmaatreëls, hoe groter die uitdaging – of so voel dit vir my.

Daar is min banke en ander instellings wat nie al deur elektroniese kapings lamgelê is nie. Sekuriteitsmaatreëls word dan drasties opgegradeer, maar dit beteken nie hulle gaan dit vryspring nie.

Ek wens die mense wat hierdie twak aanvang nie enige kwaad toe nie. Dalk net ‘n erge maagpyn wat hulle bleek van pyn laat krul.

Aan diegene wat self al deur so ‘n onderonsie is, dalk geld weens hierdie mense verloor het – my innige simpatie. Mag daar sekuriteitsmaatreëls ontwikkel word wat hierdie mense in hul spore stuit.

Dankie aan die barmhartige samaritane wat mense uit hierdie verknorsings help.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article