POTPOURRI | ‘Dit gaan goed, dankie’ (maar hoe gaan dit werklik?)

handshake in close up
Wat is jou antwoord wanneer iemand vra hoe dit gaan? FOTO: Mizuno K / pexels.com

Ek skakel een van my kliënte. “Middag, hoe gaan dit met jou?” vra ek. Daar heers ‘n oomblik se stilte. “Fisiek gaan dit regtig baie goed.” Hierdie vreemde antwoord laat my wonder. Ek glimlag. “As dit fisiek so goed gaan, hoe gaan dit met jou ander dele?”

Ek hoor hoe hy sug.

“Ek baklei met mense wat nie wil saamwerk nie. Emosioneel gaan dit glad nie goed nie,” antwoord hy moedeloos.

Ek herkou ‘n oomblik aan sy antwoord.

Iemand anders wat ek ken, vra altyd met die intrapslag hoe dit gaan.

“Dit gaan goed, dankie,” is die deur-die-bank-antwoord van mense, myself ingesluit.

Dan talm hy ‘n oomblik en vra weer hoe dit gaan.

Dit is vreemd hoe so iets die balans aan jou kant ontwrig.

Dit neem ‘n oomblik om hieroor na te dink.

Die antwoord is dan gewoonlik nie so algemeen en sonder nadenke nie.

‘n Radio-omroeper het baie jare gelede gesê daar is twee groot leuens in hierdie wêreld: “Dit gaan goed” en “Die tjek is in die pos”.

Daar word nie meer van tjeks gebruik gemaak nie, maar die eerste een is dalk steeds die mees algemene en maklikste leuen.

My kliënt se opbreek van waar dit met hom goed gaan en waar nie, het my laat besef dat ons nie werklik lieg as ons goedsmoeds sê dat dit goed gaan nie.

Iewers is daar ‘n deel van ons waar dit waarskynlik wel goed gaan.

Emosioneel. Fisiek. Geestelik. Finansieel.

Dalk gaan dit met al die dele goed. Dalk met een of twee.

Die moontlikheid is daar dat dit met al die dele sleg gaan.

Dan kan ons erken dat dit nie met ons goed gaan nie. Maar tot dan kan ons in alle eerlikheid sê: “Dit gaan goed, dankie.”

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article