Moordverhoor ná skietdood: Eksman voer aan vrou se broer het dalk geskiet

Alberto Linden Matthews
Alberto Linden Matthews (47) verlaat die getuiebank. FOTO: Charné Kemp Credit: Charne Kemp

Alberto Linden Matthews (47) wat onder meer aangekla word van die skietdood van sy voormalige vrou, Mandy Bailey (43), het Donderdag 30 Oktober in sy eie verdediging in die hooggeregshof in Kimberley aangevoer haar eie broer het haar moontlik geskiet.

Dié saak, ná die voorval op 27 Desember 2023, verwek groot opspraak en die hofsaal was vol naasbestaandes en oud-kollegas van Bailey wat vir die Noord-Kaapse departement van samewerkende regering gewerk het.

Matthews staar agt aanklagte in die gesig. Dit sluit moord, poging tot moord, onwettige besit van ’n vuurwapen waarvan die reeksnommer afgevyl is, ammunisie, en aanranding met die doel om ernstig te beseer, in.

In die akte van beskuldiging voer die staat aan Matthews het sy voormalige eggenoot reeds in November 2023 ernstig by hul huis in Beaconsfield, Kimberley, aangerand. Hy het gedreig dat hy haar en van haar minderjarige familielede sal skiet.  Sy het daarna ’n beskermingsbevel teen hom verkry wat op 11 Desember op hom beteken is.

Negejarige het glo skietvoorval waargeneem

Aan die einde van Desember het hy glo onwettig van ‘n 7.65 mm-pistool waarvan die reeksnommer verwyder is, asook ammunisie, in besit gekom. Hy het na bewering op 27 Desember by haar huis ingebreek waarna hy na die oorledene se slaapkamer is en etlike skote in die kop en bolyf geskiet het. ʼn Negejarige meisie het die voorval waargeneem. Nog ’n familielid het weens die skote wakker geword en nader gekom.

Matthews het glo die pistool op hom gerig en die sneller getrek, maar die vuurwapen het geweier. Hy het glo ook die pistool op die meisie gerig, waarna hy gevlug het. Met sy inhegtenisname op 28 Desember is hy in besit van die betrokke vuurwapen en ammunisie gevind.

Matthews het in getuienis erken Bailey het al voorheen beskermingsbevele teen hom verkry. Die laaste een was ná ʼn voorval waar hy haar vanuit die huis waargeneem het waar sy by die hoek van die huis op haar selfoon praat.

Toe sy in die huis kom wou sy nie sê met wie sy gepraat het nie. Hy het die selfoon van haar probeer afneem, waarna albei op haar bed geval het. Matthews ontken hy het haar daardie dag aangerand. Hy het daarna ʼn vriend met ʼn bakkie gevra om hom te help om sy yskas te verwyder, maar het glo van sy ander besittings soos sy motor se spaarsleutel en dokumente vergeet.

‘Het nie meer van mekaar gehou nie’

Matthews het erken dat hulle glad nie meer van mekaar gehou het nie, en dat Bailey se familielede hom ook uit die huis wou hê.

Nadat die beskermingbevel op hom beteken is, het hy en sy nie meer telefoniese kontak gehad nie. Op ʼn dag het hy vir Bailey langs die pad aangetref, stilgehou en met haar gepraat oor sy laaste besittings wat hy wou kry. Sy het ingestem dat hy kan kom wanneer hy in die omgewing is.

Op 27 Desember het hy voor die hek by haar huis stilgehou en die toeter geblaas. Na ʼn paar minute het die hek oopgegaan. Hy het ʼn paar minute in die motor gesit, uitgeklim en by die oop agterdeur ingeloop. Bailey het tussen die badkamer en gang gestap. Hy het haar met ʼn handgebaar nader gewink, maar sy het na die slaapkamer gegaan. Hy het na die kamerdeur gestap en geroep. Sy het van binne gevra wat hy daar soek. Hy het ingestap, en sy het aggressief voorgekom. Hulle het woorde gehad en hy het aan haar gestoot.

Haar broer het nader gekom, glo met ʼn vuurwapen in die hand wat hy op Matthews gerig en oorgehaal het. ʼn Skoot het afgegaan. Een van Bailey se familielede het geskreeu en Matthews het afgeduik, voordat hy gevlug en weggejaag het.

LEES OOK: Vermeende moordenaar van eksvrou se verhoor uitgestel

In kruisondervraging het adv. Leshnee Pillay, aanklaer, sy weergawe as onwaar afgemaak. Dit is volgens haar onwaarskynlik dat Bailey weens die beskermingsbevel met Matthews langs die pad sal praat of hom by haar huis toelaat. Matthews het self erken Bailey het in ‘n oproep aan sy ma gesê sy is bang vir hom, maar ook bygevoeg dat Mandy ‘n “drama queen” was wat alles oordryf het.

Hofgangers het hierop gebrom.

Pillay het dit aan hom gestel dat hy verskillende weergawes aan getuies gestel het, en dat hy sy regsverteenwoordiger onregverdiglik daarvoor beskuldig. Matthews het aangedring dat hy gewag het om te getuig sodat hy die voorval in besonderhede kon oordra.

Die verhoor is tot 12 November vir betoë voor waarnemende regter Danie Olivier uitgestel.

LEES OOK: Social workers under siege: 54 attacks recorded as caseloads spiral out of control

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article