Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard

MENING | Was ons maar seekatte sou ons makliker al die ‘spilt milk’ kon opvee


Oor minder as ‘n maand is die plaaslike regeringsverkiesing verby en dan het gedane sake geen keer nie – en volgens die Engelse uitdrukking, “no use crying over spilt milk.”

In die nuuskantoor word ‘n absolute stortvloed van werklike en spreekwoordelike trane waargeneem wanneer Noord-Kapenaars van hul ellende en verdriet weens powere dienslewering, korrupsie, en hul soortgelyke vernietigende maters laat weet.

Sover moontlik probeer diegene in die nuuskantoor help om die spreekwoordelike gemorsde melk op te vee, maar hul arms raak gedaan van al dié gevee en die plasse is later so groot dat jy nie meer weet watter kant toe nie.

Boonop, “no man (or woman) is an island” en ons almal ry deur dieselfde donker strate in die nag waar bitter min straatligte skyn en weinig padstrepe jou op die weg hou. Ons sit in dieselfde stilte wanneer die elektrisiteit af is; trek waarskynlik ons neuse op dieselfde manier op ‘n plooi weens die rioolwalms in woonbuurte, en ons beskadig ons voertuie in dieselfde slaggate. As voetgangers bly ons saam waaksaam vir die oop mangate waarvan die deksels gesteel is; vir die skarminkel skuins agter jou wat sy oog op jou sak of selfoon het.

Ons is almal saam dankbaar wanneer kaas ‘n afslagprys het. En ons almal se oë traan ná die betaalslag by die brandstofpomp.

Wanneer die son op ‘n dag weer behoorlik ná al die bewolkte dae skyn, merk jy dat die slaggate en algemene trietsigheid in die strate – net soos die kaas- en brandstofprys – enorme afmetings aangeneem het. Van die “yellow fleet” en die belofte dat alle slaggate gevul gaan word, sien jy niks. Dan wonder jy of jy nie maar na Wêreld Sigdag, wat op 8 Oktober plaasvind, se oproep moet luister en jou oë laat toets nie.

LEES OOK: Northern Cape launches R98 million road blitz to restore Kimberley’s pride

Ongeag daarvan dat jou sig vermoedelik aangetas is, merk jy op dat 8 Oktober ook Wêreld Seekatdag is – ‘n dag met die fokus op hierdie intelligente, unieke seediere. Seekatte het drie harte, blou bloed en agt arms wat met sensitiewe suigknoppies bedek is. Boonop het seekatte veelvuldige breine – hulle het ‘n sentrale brein en mini-breine in elke arm wat die ledemate toelaat om onafhanklik op te tree. En hulle is bekend vir hul intelligensie en is uitsonderlike probleemoplossers wat gereedskap kan gebruik.

Met hierdie seekat-arms vol inligting klink dit na ‘n goeie idee om soos ‘n seekat te probeer wees. Nie net gaan al daardie arms help om die gemorsde melk op te vee nie, maar gaan probleme waarskynlik werklike oplossings kry.

LEES OOK: MENING | So dip ons saam ‘n ouma en brul die leeus vanuit die kas

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article