GREENPOINT, Kimberley – Ná die vreedsame opmars na die kliniek in Roodepan oor die sogenaamde “polissmokkelaars” wat glo met pasiënte se persoonlike inligting ‘n verskeidenheid wandade pleeg, het ‘n soortgelyke opmars na die kliniek in Greenpoint plaasgevind.
Die opmars na Roodepan, wat op Wêreld Pasiëntveiligheidsdag op 17 September plaasgevind het en deur die Community Alliance South Africa (Casa) uitgeroep is, het inwoners se noodroep dat hulle nie meer altyd veilig by klinieke is nie, verwoord.
Herbert Bassil (HB) Japhta van Casa sê ná die opmars in Roodepan word hulle met inligting van gemeenskapslede oorval wie onder meer oor polisbedrog, wanaanwending van medikasie en verkeerde diagnose kla, asook oor onbeskofdheid deur personeel en vernedering wat deur pasiënte ervaar word.
By die Dr. Winston Torres-kliniek in Roodepan is agt van 16 mediese beamptes glo geskors en is ‘n bedrogsaak by die polisie aangemeld. Die dossier is na die provinsiale eenheid vir kommersiële misdaad vir hantering en ondersoek oorgeplaas.

In Roodepan is onder meer vertel dat families ná die afsterwe van ‘n familielid ontdek het dat polisse op die oorledene se naam uitgeneem is – glo deur mediese amptenare by die kliniek wie die begunstigdes op die polisse is. Dié is ook glo sonder die medewete van enige van die oorledene se familielede gedoen.
LEES OOK: KYK | Inwoners ruk op na Roodepan-kliniek oor sogenaamde ‘polismafia’
Soos in Roodepan is ‘n memorandum in Greenpoint aan verteenwoordigers van die Noord-Kaapse departement van gesondheid oorhandig. Hierin versoek Casa dat alle personeellede van die Greenpoint-kliniek wat by die gemelde sake geïmpliseer is, van aktiewe diens by die kliniek geskors word, hangende ‘n gepaste ondersoek.
Polisse wat deur kliniekpersoneel namens niksvermoedende pasiënte uitgeneem is, moet hersien word en met onmiddellike effek gestaak word, waar van toepassing.
Stelsels en prosedures wat die beskerming en vertroulikheid van pasiëntinligting te alle tye verseker, moet dringend geïmplementeer word.
Ook moet personeel wat verantwoordelik is vir die uitreiking van medisyne daagliks gemonitor word om behoorlike prosedures, aanspreeklikheid en nakoming te verseker.
Teen druktyd het die departement van gesondheid nog nie op Casa se versoeke van die eerste memorandum reageer nie, en ook nie op navrae van NoordkaapBulletin nie.
LEES OOK: ‘Dit voel of jou lewe gebreek is’: Hier is ontbering elkeen se woonstelmaat



