Op dié spesifieke dag was dit nie die soliede eetkamertafel, met sy agt stewige stoele en met plek vir nog vier stoele sou dit nodig wees, wat die nostalgie laat ontwaak het nie.
Dit was nie die herinnering aan die duisende etes wat deur dekades en geslagte heen op dié tafel bedien is en waarlangs geliefdes, ongeliefdes, bekendes en onbekendes genoeglik aan die plaasvrou se etes weggelê het nie.
Ook was dit nie die onthou van hoeveel keer dié tafel en stoele met meubelolie ingevryf is sodat die hout blink en die unieke olie-en-hout-reuk die eetkamer gevul het en deur die portaal en agtertoe in die lang gang van die plaashuis getrek het nie.
Nog minder was dit die onthou van presies hoe dit gevoel het om as kind ‘n tafeldoek oor dié tafel te gooi, seker te maak dat al die kante ewe lank afhang, en hoe dit was om die tafel te dek. Niks deftig nie, net sorgvuldig.
Daarmee saam het die onthou gekom van die plaasvrou wat ongeag die aantal eters of hul status – en deur die jare was daar ‘n ryke mengelmoes van statusloses en statusbewustes – geglo het dat elke gereg in ‘n opdienbak opgeskep sal word.
Niks van die moderne neiging om uit die kastrolle te skep nie.
Die plaaskinders het van kleins fyn na die gaste se gesprekke om die tafel geluister, maar was uiters dankbaar wanneer daar so baie was dat die jongspan om die kombuistafel moes sit. Dan kon hulle vinniger weer die sondeurdrenkte vlaktes van die plaas invaar om nie ‘n oomblik van sorgvrye kindwees te mis nie.
Soms, om dié tafel, wou die kinders hulle gedaan lag vir die vreemdheid van buitelandse gaste.
Die man van die plaas was gasvry en het bekendes én onbekendes van ver plekke genooi: Kom kuier tog.
En hulle het.
Soos die buitelandse besoeker met ‘n onuitspreekbare naam. Die kinders het hom Nefie genoem en besluit hy moet van Rusland kom, want hy rus dan net die hele dag. Nefie was fluks met eet.
Wat op dié dag die nostalgie laat ontwaak het, was ‘n opskeplepel uit die plaashuis wat in die kombuislaai van die stadshuis beland het.
‘n Lepel wat duisende kere deur die plaasvrou gebruik is om in die kastrolle te roer, geregte mee op te dis; wat duisende kere in plaaswater gewas is, en duisende kere in die laai vir môre se gebruik gebêre is.
En vir die toekoms se onthou.
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.




