Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard
Noordkaap Bulletin

MENING | Moederfigure is arbeidsmag van môre se eerste mentors


Tussen Werkersdag en Moedersdag is daar ‘n parallel te trek; gedagtes om oor te besin.

Werkersdag – wat op 1 Mei in Suid-Afrika plaasvind – het sy oorsprong in politieke stryde en regte van werkers, terwyl Moedersdag op 10 Mei vanjaar gefokus is op die moederfiguur in ‘n huishouding.

Werkers is die ruggraat van die ekonomie, en die moederfiguur in ‘n gesin die ruggraat van die huishouding.

Of dié moederfiguur self in ‘n beroep is of nie, die gladde funksionering of totale chaos in ‘n huishouding is hoofsaaklik dié persoon se verantwoordelikheid.

Hier word van ‘n moederfiguur melding gemaak – dié kan in sommige gevalle manlik van aard wees omdat daar gesinne sonder ‘n ma is, of ‘n ma het wat nie ‘n huishouding kan behartig nie. In sulke gevalle staan ‘n ander persoon in die huishouding as ‘n moederfiguur in.

Ideaal gesproke deel werkers en moederfigure albei die beginsel van arbeid, bemeestering van sekere logistieke aspekte, vaardigheid, uithouvermoë, die wil om te leer en buigbaar te wees, en om ‘n positiewe verskil te maak.

Ook om trots te wees op wat verrig word.

‘n Moederfiguur in ‘n huishouding is as’t ware ‘n kind se eerste bestuurder en mentor. Dit is by dié persoon dat die kind dissipline, veerkragtigheid en integriteit leer.

Dit alles vorm deel van die bloudruk vir die soort werker wat daardie kind sal word.

Moederfigure is in werklikheid verantwoordelik vir die grondslag en intreevlak van die werksmag van ‘n volgende geslag.

Dit is ook hier waar seuns moet leer om meer empatiese, bekwame en ondersteunende volwassenes te wees, en meisies om steeds vrou te wees maar haar man te kan staan.

Anders as vroeër is take in en om die huis, soos kosvoorbereiding, skoonmaak, wasgoed was, tuinwerk en meer, nie net meer werk vir een geslag nie.

Weens maatskaplike strukture het dit ‘n gedeelde verantwoordelikheid geraak.

Moederfigure, net soos ‘n werkersmag, het ‘n primêre rol in ‘n nasie se toekoms te speel en dié rol het van vroeg ‘n invloed op ‘n kind.

Informele lewenslesse om ‘n kombuistafel is die eerste treë vir ‘n kind om op ‘n dag hom- of haarself as ‘n volwassene op watter beroepsvlak ookal te kan handhaaf.

Soos wat die skrywer Maria Shriver gesê het: “Having kids – the responsibility of rearing good, kind, ethical, responsible human beings – is the biggest job anyone can embark on.”

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article