Loxton in die Noord-Kaap
Loxton is een van die mees boomryke Karoo-dorpe. FOTO: Facebook / Loxton Online
Noordkaap Bulletin

Loxton se dambraai-geleentheid help om Karoo-dorp boomryk te hou


Die Loxton Dambraai, ter ondersteuning van dié Noord-Kaapse Karoo-dorp se boomprojek, vind eersdaags plaas.

Loxton is een van die mees boomryke dorpe in die Karoo, maar weens ouderdom en ‘n gebrek aan water het baie van dié ou reuse al gesneuwel.

Inwoners het ‘n paar jaar gelede talle nuwe boompies aangeplant, onder meer rooi karee, maar die uitdaging bly watervoorsiening en volgehoue versorging van die bome.

Loxton
Een van die boomryke strate in Loxton, waarvoor die dorp bekend is. FOTO: Facebook

‘n Groepie individue poog tans om die boomprojek aan die gang te hou; ‘n komitee word aan die gang gesit en meer inwoners word betrek.

Die Loxton-dam, reg langs die dorp, was die afgelope jare selde vol water weens ‘n lae reënvalsyfer. Wanneer die dam vol is, word die water vir besproeiing van dorpserwe en kleinhoewes gebruik.

LEES OOK: Stroping bedreig bome

Danie Snyman, ‘n betrokkene by die boomprojek, vertel dat die Loxton Dambraai verlede jaar onstaan het met Loxton se dam wat meeste van die tyd droog is.

“Laasjaar het ons bloot ‘n bring-en-braaigeleentheid gereël, maar ons het vanjaar besluit om meer aan te bied.

“Verlede jaar se geleentheid was ‘n yskoue, omplesierige aand sonder beskutting, maar vanjaar gaan tente opgeslaan word,” vertel hy.

Dambraai bied iets vir elke smaak

Die NG kerk Loxton, wat in 1924 gebou is, is ‘n baken van die dorp. FOTO: Facebook

Die Loxton Dambraai-geleentheid begin reeds op Vrydag 24 April met ‘n orreluitvoering om 17:30 in die ikoniese NG kerk deur prof. Theo van Wyk. Mathilde Stuart op viool, en Christo Venter op kitaar is deel van die geleentheid.

Dit word gevolg deur ‘n karaoke-byeenkoms by Die Windpomp.

Saterdag om 07:00 begin verrigtinge met ‘n pretstap-, draf- of fietsrygeleentheid vanaf die Biesiespoort-gasteplaas, waar 5km, 9km of 23km aangepak kan word.

‘n Karoo-ontbyt kan daarna by Loxton Lekker of een van die ander plaaslike restaurante genuttig word.

Dit word gevolg deur deelname of ondersteuning aan La Petanque (boule of ‘Franse rolbal’) by Die Meulstoor.

Van die aksiebelaaide aktiwiteite sluit ‘n 4×4-hindernisbaan, die kwartmyl bakkie-“drag”, bakkie-toutrek, skyfskiet, jukskei, en kindervermaak in.

By die Dambraai-feesruimte kan kosstalletjies en die kontantkroeg ondersteun word, terwyl musiek geniet word. Die hoogtepunt van Saterdagaand is dans (dat die stof staan) onder die Karoo-sterre, terwyl ‘n groot vleisbraai-geleentheid plaasvind.

Verblyf is in die dorp en op omliggende plase beskikbaar.

  • Besoek die Facebook-blad Loxton Online vir inligting, of stuur ‘n WhatsApp-boodskap aan Snyman by 083 414 8110.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article