Noordkaap Bulletin

‘Koalisieregerings die waarskynlike toekoms’ sê partyleier in Kimberley

Corné Mulder
Corné Mulder tydens sy besoek aan Kimberley. FOTO: Charné Kemp
Noordkaap Bulletin

‘Koalisieregerings die waarskynlike toekoms’ sê partyleier in Kimberley


Met die oog op die komende plaaslike verkiesings op 4 November is koalisieregerings die mees waarskynlike toekoms vir Suid-Afrika. Omdat geen enkele party ‘n volkome meerderheid gaan behaal nie, sal partyleiers moet saamwerk.

Só het Corné Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus (VF Plus), Vrydag in Kimberley gesê toe hy kiesers toegespreek het om sy boodskap van “hoop, beginselvaste politiek en die belangrikheid van koalisieregerings” te bring.

Hy posisioneer sy party as die “volwassene in die vertrek”, ‘n party wat stabiliteit en rede kan bring wanneer koalisies onderhandel word.

Mulder sê sy party is gereed om ‘n deurslaggewende rol in die land se politieke toekoms met hul veldtogleuse, “Dis ons tyd” te speel. Volgens hom is een van die belangrikste lesse wat hy by sy pa geleer het dat “een mens op die regte tyd en plek ‘n verskil kan maak.”

Hy het benadruk die VF Plus is nie net ‘n “kloon of ‘n flou afskaduwing” van ander partye soos die DA of ANC is nie, maar ‘n party in eie reg met ‘n “duidelike, herkenbare visie”.

“Ons staan vir vryheid, konserwatiewe waardes en die beskerming van gemeenskappe,” het hy gesê. “Die VF Plus draai nie sy rug op sy oorsprong nie. Ons verwelkom mense uit alle gemeenskappe wat ons waardes deel, maar ons verander nie ons koers om ander te probeer paai nie.”

Mulder het bekendgemaak dat die party die afgelope paar maande ‘n aansienlike toename in nuwe lede beleef het.

Beleef toename van nuwe lede

“Interessant genoeg kom die meerderheid nuwe aansluitings van voormalige DA-ondersteuners, en die res van partye soos die ACDP, IVP, ANC en EFF.”

Hy skryf die groei toe aan die party se betroubaarheid: “Mense sê vir ons: ‘Julle doen wat julle sê.’”

Tog het hy gewaarsku teen interne stryery en tweespalt. Hy sal nie skroom om ʼn lid uit te gooi wat onmin saai nie.

“Ons gaan nie ingesleep word in kleinsielige gevegte tussen partye nie. Dit gaan nie oor ons as raadslede of partye nie; dit gaan oor wat die beste is vir die gemeenskap wat ons dien.”

Mulder het kiesers gewaarsku om nie hul stemme te mors deur tuis te bly of te stem vir partye waarmee hul waardes nie strook nie.

“Ons sal ons nooit deur enigiemand laat ompraat asof ons nie die reg het om in Suid-Afrika te wees nie – ons het net soveel reg om hier te wees soos enige iemand anders. Ons moet hard werk asof alles van ons self afhang, maar bid en weet dat alles van Hom afhang.”

LEES OOK: ‘Jongmense nie apaties’ – Jeug brei kieserslys uit met registrasienaweek

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article