KIMBERLEY – Die huurkontrak en veelbesproke verhuising in 2023 van die Kantoor van die Noord-Kaapse Premier gaan moontlik gekanselleer word nadat die ouditeur-generaal (OG) glo onreëlmatighede in die toekenning van die kontrak bevind het.
Hierdie verhuising ongeveer drie jaar gelede, vanaf die ou Transnetgebou langs Quinn-straat na die DCS-gebou langs Memorialweg in Monument Heights in Kimberley, is destyds deur premier dr. Zamani Saul met ’n trompetgeskal aangekondig.
Pakes Dikgetsi, voorsitter van Congress of the People (Cope), het ‘n uitgelekte brief van die Noord-Kaapse departement van paaie en openbare werke aan die geboueienaar NC Millenium Properties op sosiale media gedeel waarin die departement ‘n vrywillige beëindiging van die kontrak voorstel weens die bevindings van die OG.

Die brief is onderteken deur dr. Steven Jonkers, departementshoof, wat voorheen die adjunk-direkteur-generaal in die Kantoor van die Premier was. Hy is in 2020 deur die premier aangestel totdat hy in 2025 departementshoof geword het.
‘Waarskuwings van vroeër was korrek’
Dikgetsi sê in ‘n verklaring sy waarskuwings in 2023 was korrek. Destyds het Diketsi aangevoer die Kantoor van die Premier se begroting vir bedryfshuurkontrakte het onverklaarbaar van R7,5 miljoen in 2021 tot ‘n skokkende R22,7 miljoen in die 2023-boekjaar opgeskiet.
“Sedertdien sit ons met leuens en toesmeerdery. Die premier mislei ons oor die wettigheid van die huurkontrak vir die kantoorgebou. Ek verkwalik egter nie die geboue-eienaar wat ‘n sakeman is nie, maar die amptenary.”
Hy voer aan die dokumentêre bewyse van ‘n fluitjieblaser bevestig die departement van paaie en openbare werke het die huurooreenkoms beëindig na die negatiewe ouditbevindings van die OG.
LEES OOK: Kantoorhuur laat oë rek
“Die OG het bevind die kontrak was onreëlmatig en regstellende stappe, insluitend die beëindiging van die kontrak, is nodig. Die kontrak, wat aanvanklik vir tien jaar sou duur, word ná slegs drie jaar gestaak. Die staat kan moontlik groot bedrae geld verloor as die eiendomseienaars die saak hof toe neem weens die beëindiging van ‘n wetlik bindende kontrak.”
Saul het voorheen in die provinsiale wetgewer volgehou alle wetlike prosedures is gevolg. Dikgetsi beweer die departement se brief oor die onreëlmatige kontrak weerspreek die premier se vorige versekerings dat hy nie geld vermors nie.
“Die Kantoor van die Premier het aangedring om na die gebou te trek. Die werksomstandighede in die nuwe gebou is swak, met senior amptenare wat soos sardientjies in oopplan-hokkies sit, wat risiko’s vir vertroulikheid en inligtingsekuriteit inhou.”
Omvattende ondersoek versoek
Cope beplan om ‘n formele versoek aan die Noord-Kaapse Provinsiale Wetgewer te stuur om te bepaal of die premier die wetgewer mislei het. Die party gaan die Openbare Beskermer versoek om op te tree teen amptenare wat moontlik onakkurate inligting tydens ondersoeke verskaf het.
Die saak word ook na die Nasionale Vervolgingsgesag se Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie (IDAC) verwys vir ‘n omvattende ondersoek na moontlike oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA).
“Geen politikus of amptenaar is bo die reg verhewe nie,” sê Dikgetsi.
LEES OOK: ‘Toestand van gebou fnuik werksaamhede’
In die departement se brief aan Tyron Ruiters, direkteur van NC Millenium Property Developers and Suppliers wat die gebou verhuur, word bevestig die huurooreenkoms vir die kantoorgebou van 7 770 vierkante meter word vrywillig beëindig.
“Die besluit volg nadat die OG bevind het dat die oorspronklike kontrak, wat in Junie 2023 gesluit is, onreëlmatig was. Die departement is verplig om regstellende stappe te neem en het ‘n kennisgewingtydperk van 90 dae ingestel,” lui die brief.
Talle spesifikasies vereis vir nuwe gebou
Die departement het luidens die webwerf e-Tenders, nog ‘n bod, DRPW 012/2024, geadverteer om alternatiewe verblyf vir die Kantoor van die Premier te vind ná intrek in die nuwe gebou plaasgevind het.
Spesifikasies vereis ’n gebou in Kimberley van 4 540 vierkante meter, groot genoeg vir 277 kantore. Dit sluit ‘n kantoor vir die premier in, 21 kantore vir adjunkdirekteure en 44 vir administratiewe klerke, en ‘n bykomende 760 vierkante meter vir raadsale, stoorkamers, ‘n kliniek en sekuriteitsareas.
Die gebou moet oor rugsteun-elektrisiteit (sonkrag) beskik, twee 2 500 liter-watertenks met pompe, en lugversorging in alle kantore. Dit vereis 300 onderdak-parkeerplekke en 43 veilige, toesluit-parkeerplekke binne die perseel. Die huurtermyn word vir ’n tydperk van nege jaar en 11 maande beplan.

LEES OOK: Nuwe premiersgebou bied blykbaar waarde vir geld
Hoewel die staat gewoonlik korter termyne verkies, is die duur volgens regeringsriglyne toelaatbaar mits die proses deursigtig en mededingend is. Die jaarlikse huureskalasie is ook streng beperk tot ‘n maksimum van 6,5%.
Vir die geadverteerde bod moet voornemende verhuurders verseker hul belastingake is in orde en op die nasionale Sentrale Verskaffersdatabasis (CSD) geregistreer wees. Die sluitingsdatum vir die tender was 9 Junie 2025. Die departement het aangedui dat geboue wat reeds gereed is vir okkupasie eerste voorkeur sal geniet. Dié bod is nie uitgevoer nie.
Redes vir skuif só verduidelik
In Augustus 2023 het Saul by ‘n perskonferensie verduidelik dat die skuif na die DSC-gebou in Monument Heights nodig was omdat die JB Sauer-gebou, wat aan Transnet behoort, in Kimberley-Noord oud en vervalle was.
Saul het gesê die Premier se Kantoor het die 60 jaar oue Transnet-gebou sedert 2008 gehuur, maar dat die onderhoud agterweë gelaat is.
Daar was ‘n dispuut tussen die premierskantoor en Transnet. Transnet het ‘n jaarlikse prysstyging van 6,5% geëis. Die premier het ook geweier om ‘n agterstallige eis van R64 miljoen te betaal weens die gebrekkige onderhoud en swak toestand van die gebou.
Volgens Saul het hulle destyds huur van R1,6 miljoen per maand betaal, moes hulle na bewering self R4 miljoen aan die instandhouding van ‘n gebou wat nie eens aan hulle behoort nie, bestee. Daar is ook verwys na bevindings van die departement van arbeid en ‘n onafhanklike ingenieursverslag wat getoon het dat die JB Sauer-gebou nie meer aan minimum veiligheids- en gesondheidstandaarde voldoen het nie.
Opposisiepartye het destyds aangevoer dat die skuif na die nuwe, luukse DSC-gebou teenstrydig is met die premier se openbare beloftes om staatsuitgawes en oorbodige luukshede in te perk.




You must be logged in to post a comment.