KIMBERLEY – ‘n Inwoner van die stad is Woensdag 16 September in die Hooggeregshof in Kimberley aan moord skuldig bevind, terwyl sy meeloper aan aanranding met die opset om ernstig te beseer, skuldig bevind is. Dit volg nadat ‘n vriend van hulle doodgemaak is weens onbewese bewerings van seksuele teistering.
Phillipus Adrian van Wyk (31) is deur regter G. Nxumalo aan moord en Steven Francois Coetzee (43) aan aanranding skuldig bevind. Hulle is daarvan beskuldig dat hulle Duncan Cameron op 12 November 2022 by Coetzee se huis in Herculesstraat in Herlear, Kimberley, vermoor het deur hom te skop, slaan en te verwurg.

Die regter het Van Wyk se weergawe as onwaar verwerp. Van Wyk het sy wens uitgespreek om dood te maak.
In sy verweer het Van Wyk aangevoer hy was kwaad omdat Cameron vernederende opmerkings oor vroue gemaak het, nie oor die beweerde seksuele aanranding van ‘n minderjarige meisie nie.
Die regter het bevind geen getuies het sy weergawe bevestig nie. Hy was ook bebloed ná die voorval, wat die aanranding op die oorledene bevestig.
Alkoholgebruik het ook ‘n rol gespeel, en daar was geen voorbedagte rade of samewerking met sy medebeskuldigde nie. Van Wyk het aangevoer hy is deur die oorledene uitgetart, maar hy had nie die bedoeling om hom te dood nie, wat deur die hof verwerp is.
Die regter het bevind die staat kon nie bewys dat Coetzee wou moor nie. Hy het homself in ʼn stadium van die volgehoue aanranding gedistansieer wat deur getuienis bevestig is.
Coetzee se vrou, Vickie, het getuig dat sy die kinders na die buurman gevat het toe die vuisgeveg begin, en het nie gesien dat haar man veel aan die oorledene slaan nie. Dit is deur die buurman, wat geroep is om die geveg te help stop, bevestig.
Die buurman het ook getuig Coetzee het nie so aktief soos Van Wyk aan die aanranding deelgeneem nie.
Nooi oorledene om hom ‘dood te maak’
Die staat het aangevoer die voorval het begin waar die beskuldigdes en hul gesinne saam gebraai het. Gedurende die middag het die mans gehoor ‘n minderjarige familielid is na bewering seksueel deur Cameron aangerand. Van Wyk was glo ook woedend daaroor en het verklaar Cameron moet oorgenooi word omdat hy hom “wou doodmaak”.
Met Cameron se aankoms het die mans aanvanklik saam gedrink. Terwyl die vroue besig was om die aandete voor te berei, het die twee beskuldigdes Cameron buite aangeval.
Cameron is met gebalde vuiste geslaan, geskop, sy kop teen ‘n muur gestamp en is hy ook gewurg.
Ná die aanval het Coetzee en ‘n buurman, Jason Strydom, Cameron se liggaam na die sypaadjie gedra waar hulle hom gelos het. Polisie en mediese personeel het hom later op die toneel dood verklaar.
‘n Lykskouing op 14 November 2022 het bevestig die oorsaak van dood is “stomp kop-trauma en verwurging”.
Volgens die staat het die mans met voorbedagte rade en ‘n gemeenskaplike doel opgetree.
Die regter het bevind hoewel Coetzee aanvanklik aan die aanranding deelgeneem het, het hy nooit die bedoeling uitgespreek dat hy ook vir Cameron wou dood soos wat Van Wyk uitgespreek het nie. In ‘n stadium het hy homself van die toneel verwyder en het hy en die bure saam die polisie en die ambulans gebel.
- Getuienis ter strafversagting en strafverswaring word Donderdag aangehoor.
LEES OOK: ‘Geen samewerking of sameswering om te moor’ voer verdediging aan






You must be logged in to post a comment.