WORCESTER –‘n Gesin van ses van die plaas Drie Rivieren is steeds getraumatiseer nadat hulle vir meer as 20 ure – midde die sterk wind- en reënstorms wat dae aaneen in die dorp gewoed het – met ‘n sewe dae oue baba in ‘n vragmotor wat deur ‘n groot watermassa omring was, vasgekeer was.
Die gesin het in ‘n stadium so moedeloos geraak dat hulle begin vrede maak het met die feit dat hulle nie lewendig daar sou uitkom nie.
‘n Steeds geskokte Susanna Hugo (37) vertel dat sy en haar man, Waldo (41), Maandag (11 Mei) hul baba, Lee-Jaywin (toe sewe dae oud), in gietende reën hospitaal toe geneem het vir sy ses dae oue mediese ondersoek. Toe hulle terugkeer huis toe, het sy en die baba bietjie gaan rus.

Volgens Susanna het sy haar boeglam geskrik toe haar kinders angstig na haar begin roep: “Ma, kom kyk hier!” Sy sê die watermassa aan die buitekant van die plaasheining het by die minuut groter geword en vinniger begin styg.
Volgens haar was die stroom so sterk dat dit uiteindelik deur die heining gebars het. Sy sê dit was nie lank nie toe pyl die waterstroom teen ‘n hoë spoed reguit op hul woning af. Volgens Susanna het sy vinnig komberse voor die deur begin pak om die water te keer.
“My man het in die excavator (graafmasjien) gespring en vinnig ‘n sloot voor en langs die huis gegrawe om die water weg te lei. Vir ‘n rukkie het dit gewerk, maar toe die water die grensmuur by die ingang van die plaas ook platstoot, toe besef ek nou is ons in die moeilikheid.”
Susanna sê toe sy haar oë uitvee, was hul huis vol water. Toe breek daar chaos uit.
“Ek het vir die kinders (10-, 15- en 18-jaar) geskree om hul klere te gryp. Terwyl my man besig was om komberse in swart sakke te pak, het ek ons baba gegryp. My man het ons almal tot in die trok wat naby ons huis staan, gehelp. Dit was toe net na 19:00.”
Volgens Susanna het haar man dringend na ‘n veilige plek begin soek om die trok te parkeer sodat die voertuig nie deur die water meegesleur word nie. Sy vertel dat hulle verder paniekbevange geraak het toe die sterk waterstroom die trok laat kantel het.
“Teen daardie tyd was die water bokant die trok se wiele. Vir ons veiligheid het my man die trok heelnag vorentoe en dan agtertoe beweeg. Dit was pikdonker rondom ons, want die krag was af. Al wat ons gehoor het, was die sterk wind en swaar reën.”
Volgens Susanna het haar man sy lewe gewaag toe hy weer in die graafmasjien geklim het om na gate te soek.
Sy sê toe haar man terug in die trok was, het hy probeer ry in die rigting van die hoofingang. Volgens haar was hulle histeries toe die trok met sy neus halfpad in ‘n gat insak.
“Die trok het skuins gehang toe my man reverse en op ‘n walletjie stilhou. Vir ‘n uur het ons so skuins in die trok gelê. Die sterk water en wind het die trok die heeltyd heen en weer laat beweeg.
“Ons was honger en dors, want ons het geen kos of water gehad nie. Gelukkig borsvoed ek my baba. My man het gereeld die trok aangeskakel sodat ons warm kon bly. Hy het ook die trok se ligte gereeld aangeskakel sodat ons kon sien hoe hoog die water lê.
“My man het in ‘n stadium begin huil. Hy het ons gevra om hom te vergewe vir die situasie waarin ons is. Ek het vir hom gesê ons blameer hom glad nie en dat hy sy bes probeer. Toe sê hy vir my: ‘My vrou, as daai muur omval, verloor ons ons lewens hier vanaand.’”
Volgens Susanna het sy ophoudelik begin bid. “Ek het vir die Here gesê: ‘U het dan sopas vir my ‘n baba gegee. Hoe kan U vir my ‘n baba gee, dan moet ons ons lewens so verloor?’ Toe is dit amper asof ek hoor hoe die Here vir my sê: ‘Ek gaan jou wys hoe ek jou uit elke storm in jou lewe gaan red.’ Dit het my kalm gemaak.”
Volgens Susanna het haar man weer sy lewe gewaag deur in die graafmasjien te klim, want toe was daar bome en stompe wat saam met die rivier afgestroom het. Sy sê hy was bang dat dit teen die trok sou vassit en dat die water dan nog vinniger sou styg.
“Terwyl my man besig was om die bome en stompe te probeer keer, het die een kant van die excavator in ‘n gat vasgeval.
“Toe my kinders dit sien, het hulle histeries geraak en begin huil. Ons het vir hom geskree en beduie om terug te kom, maar hy kon ons nie sien of hoor nie omdat hy met sy rug na ons toe gesit het.”
Sy sê haar man het gelukkig besef hy gaan dit nie maak nie en terug in die trok geklim.
Volgens Susanna het sy en haar man deur die nag oproepe ontvang van mense wat wou weet of hulle nog veilig is, hulle bemoedig, raad gegee en met gebed getroos het.
“Teen 14:00 was daar nie meer water om die trok nie. Ons het toe uitgeklim. Ons was so honger dat ons sommer van die naartjies wat saam met die rivierstroom afgekom het, begin eet het.”
Volgens Susanna het brandweerpersoneel haar en haar gesin uiteindelik na veiligheid begelei.
“Worcester se mense het regtig saamgestaan en ons baie ondersteun.”
Die gesin is tans tuis by ‘n familielid, Carlo Swarts, in Avianpark.







You must be logged in to post a comment.