PAARL – ‘n Wellingtonse ouerpaar is diep ongelukkig nadat hulle vir ure moes wag vir ‘n dokter by Mediclinic Paarl om aan hul sewe weke oue baba aandag te skenk nadat die kleintjie van ‘n bank afgerol het.
Die voorval het voorverlede Saterdagmiddag (29 November) plaasgevind toe die kleintjie op die bank gelê en in ‘n oogwink net afgerol het.
“Hy is baie sterk vir sy ouderdom. Ons het self groot geskrik toe hy homself laat afrol,” vertel die 30-jarige pa.
Die paartjie het anoniem met Paarl Post gesels omdat hulle bang is dat hulle in die toekoms moontlik geviktimiseer sal word indien hulle weer van die hospitaal se dienste gebruik moet maak.
Nadat die kind geval het, het die man saam met sy 28-jarige vrou en hul sesjarige dogtertjie hulle uit die buurdorp na die Mediclinic Paarl gehaas.
“Hulle het daar gekyk of hy net oukei is en hy is ‘n kleurkode gegee, maar ek kan nou nie onthou watter kleur dit was nie. Op ‘n tyd het hulle ons na ‘n kamer geskuif en ons het daar gesit en wag vir CT scans en dit toe gaan doen.”
Volgens die pa het hulle vyf ure lank daarna in ‘n kamer gesit voordat mediese personeel hulle kom inlig het dat hul seuntjie oorgeplaas word na Mediclinic Cape Gate. Kort daarna is hulle weer ingelig dat die kindjie nie meer na Cape Gate oorgeplaas word nie, maar eerder na Mediclinic Louis Leipoldt in Bellville. Die pa sê ná ses ure se gewag en niemand wat kom seker maak oor hul seuntjie se toestand nie, het hy genoeg gehad.
“Toe ek nou besluit ek gaan my kind vat en self Bellville toe neem, want alles is gereël daai kant, toe spring die dokter in en sê ons mag nie ry nie. Sy sê toe dit is haar verantwoordelikheid en sy vitals moet ge-check word. Ons sê toe vir haar vir ses ure het sy nie sy vitals ge-check nie. Sy vertel my toe sy wag die heeltyd vir die CT scans se uitslae, maar op ‘n tyd toe ek in die noodeenheid rondgeloop het, het ek gesien sy sit met die scans op haar rekenaar. My kind was duidelik nie vir haar so belangrik nie, want sy is heeltyd met iemand anders besig. Toe ek besluit om my kind te vat, toe is dit nou ‘n probleem en dat ek nie die kind kan vat nie, want dit is haar verantwoordelikheid, maar vir ses ure het niemand iets gedoen nie.”
Diep ongelukkig en gefrustreerd op daardie oomblik het die pa na hul woning in Wellington gegaan om klere vir sy vrou en hul seuntjie te gaan haal. Hy vertel hy het besluit om sommer van die huis af reguit deur te ry Bellville toe. Met sy aankoms by Louis Leipoldt was sy vrou en seuntjie nog nie eens op pad Bellville toe nie.
“Hulle het eers die aand tienuur in Bellville aangekom. Al wat die dokter gesê het, is ‘ek vra om verskoning hier-
oor’. Ons is baie teleurgesteld. Ons het oor die naweek kommunikasie van hulle ontvang dat ons hulle Donderdag (11 Desember) kan kom sien. Dan gaan ons met die hoof van die praktyk, wat die noodeenheid bestuur, en ook die bestuur van Mediclinic Paarl vergader.”
Die paartjie se ongelukkigheid word verder aanvuur nadat die betrokke dokter by Mediclinic Paarl se noodeenheid in haar verslag geskryf het dat die seuntjie moontlik mishandel word.
“Mediclinic het so ver gegaan en maatskaplike werkers na ons huis toe ook gestuur, want hulle het op die verslag geskryf ‘possibly abused’. Ek verstaan daar is ‘n roetine wat hulle as dokters moet volg, maar om te gaan skryf ‘possibly abused’ en ons vertel wat gebeur het en ons word aangegee vir mishandeling, sit ook nie lekker met my nie. Die maat-
skaplike werker was by ons huis en het met ons gepraat en erken sy sien geen gevaartekens nie. Ons het ‘n sesjarige dogtertjie ook.”
Die hele gedoente is ook traumaties vir die ouerpaar se dogtertjie omdat sy al daardie ure saam met hulle by die hospitaal moes sit.
“Ons is oorspronklik van die noorde, dus het ons nie enige familie hier by wie ons haar kon los nie.”
Dit gaan intussen baie beter met die seuntjie. Sy pa vertel hy is bestendig nadat hy verlede Maandag (1 Desember) ontslaan is.
“Hy het ‘n skedelfraktuur, maar dit is nou ‘n ding wat saam met sy skedel moet toegroei omdat hy so klein is. Ons is baie dankbaar vir die uitstekende diens by Louis Leipoldt. Ons betaal vir medies sodat ons goeie diens kan ontvang.”
• Jacorie Visagie, Mediclinic Paarl se kliënte-ervaring-bestuurder, het by navraag gesê Mediclinic is bewus van die gesin se ongelukkige ervaring en neem hul kommer ernstig op. “ ’n Interne ondersoek is aan die gang. Ons sal met die gesin vergader om direk terugvoer te gee. As gevolg van pasiëntvertroulikheid kan ons nie verdere besonderhede deel nie. Ons bly daartoe verbind om veilige, hoëgehalte-sorg aan al ons pasiënte en hul families te lewer.”
LEES OOK: Skok vir ouers: Baba verkeerdelik as dood verklaar by Mediclinic





