KIMBERLEY – Ongeveer 350 behoeftiges het vanjaar voordeel getrek uit die tweede “cashless shopping experience” wat deur Mediclinic Gariep in Kimberley aangebied is.

Met dié kontantlose inkopie-ervaring kon minderbevoorregtes op Vrydag 18 Julie een pakkie van elke tafel kies van dit wat hulle nodig het.

Só kon hulle kies tussen verskillende voedselprodukte, toiletware, mans-, vroue- of kinderklere, skoene, linne, komberse, huishoudelike produkte, en selfs boeke.

Kontantlose inkopies
“Dit maak my hart baie bly, en dit sal Mandela se hart ook blygemaak het,” sê dié man wat duidelik wys dat hy die 151ste koopbewys vir die tweede kontantlose inkopie-ervaring by Mediclinic Gariep ontvang het. Hy en sy vriende was baie dankbaar oor dié geleentheid waarop hulle artikels kon kies wat hulle nodig het. Foto’s: Helena Barnard

Denise Coetzee, kliënt-ervaringbestuurder by Mediclinic Gariep, vertel dat sy skoon bewoë was oor ‘n jong man se vreugde om ook boeke te kon kies. Hy het vertel dat hy enige boek wat hy in die hande kan kry, lees, maar dat hy die meeste van liefdesverhale hou.

Bewusmaking is vooraf deur personeellede van die hospitaal gedoen, en ‘n kaartjie met ‘n nommer wat as ‘n koopbewys dien, is aan 350 behoeftiges uitgedeel.

Vrydag, met die toon van die bewys, het elkeen ‘n groot inkopiesak gekry; waarná hulle tussendeur die tafels op ‘n deel van Mediclinic se parkeerterrein kon stap en na hartelus kon kies en keur.

“Armoede en swaarkry strek wyd,” sê Coetzee. Sy vertel hoewel die eerste geleentheid in Oktober verlede jaar aangebied is, het hulle besluit om dit na die winter en na Mandeladag te verskuif.

Coetzee sê dit gaan weer aangebied word.

Sy, en ander personeellede wat al hóé lank bedrywig is om al die skenkings te sorteer en verpak, is dankbaar vir die maatskappye, ondernemings en individue wat skenkings hiervoor gedoen het.

‘n Jong vrou by die tafel waar sy vroueklere kon kies. Sy word deur ‘n werknemer van Mediclinic Gariep bygestaan.
‘n Jong man, met selfs ‘n paar boeke in sy inkopiesak, stap weg ná sy kontantlose inkopie-ervaring.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article