ATLANTIS – ’n Elfjarige kind wat verlede week geboorte geskenk het, het die dorp se mense in rep en roer gelaat, terwyl haar familie en ma geweier het om oor die voorval kommentaar te lewer.
Die ma se kêrel, wat die tienermeisie se stiefpa is, het kort ná die geboorte rugbaar geraak het, in die Atlantis-landdroshof verskyn. Hy is egter vrygelaat omdat die saak nie op die hofrol geplaas kon word nie.
Eric Ntabazalila,die Wes-Kaapse woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het bevestig die dossier is nie op die rol geplaas nie omdat daar op daardie tydstip nie genoeg bewyse teen hom was nie, en die saak is terugverwys na die ondersoekbeampte vir verdere ondersoek.
Die tienerma se ma is egter dié week in hegtenis geneem omdat sy versuim het om die seksuele misbruik aan te meld, het Ntabazalila bevestig .
Die ma het Donderdag 14 Mei in die hof verskyn en sal weer komende Dinsdag (19 Mei) verskyn om om borgtog aansoek te doen.
WeskusNuus het intussen vertroulik verneem dat die stiefpa intussen weer in hegtenis geneem is. Volgens ’n betroubare bron is hy glo op pad Johannesburg toe deur lede van die Milnerton-kinderbeskermingseenheid (FCS) en die Atlantis-polisie aangekeer.
Volgens ‘n gemeenskapslid wat verkies om anoniem te bly, kry dié familie nou meer ondersteuning omdat die elfjarige in die Wesfleur-hospitaal opgeneem is. Sy was geskok om die nuus oor haar ma se inhegtenisneming te kry.





