muller
Anthony en Elvera Muller tydens hul onderhoud. Skermgreep: YouTube

‘n Bruin gesin van Wellington sê bewerings dat die Amerikaanse vlugtelingprogram uitsluitlik vir wit Afrikaners bedoel is, onwaar is. Anthony en Elvera Muller, wat saam met hul sesjarige seuntjie en negejarige dogter onlangs as vlugtelinge na die Verenigde State (VSA) verhuis het, het in ’n aanlyn onderhoud gesê hulle is lewende bewys dat ook ander Suid-Afrikaanse minderheidsgroepe vir die program kwalifiseer.

Die Muller-gesin het op 18 Januarie ‘n aanlyn onderhoud uitgesaai op YouTube met Chris Wyatt, ‘n Amerikaanse mediapersoonlikheid en kommentator.

Die gesin het hul nuwe lewe in Sioux Falls, Suid-Dakota, skaars vyf dae voor die onderhoud begin toe hulle besluit het om hul ervaring publiek te deel om.

Anthony het in die onderhoud vertel dat hy en Elvera hulle lewe in Wellington doelbewus ingerig het rondom stabiliteit en veiligheid vir hul kinders. Dié gevoel van sekerheid is egter in 2024 verbreek toe die gesin in hul eie huis in ‘n veilige area aangeval is.

Volgens Anthony is hulle tydens die voorval in hul woning aangehou – ’n ervaring wat hy beskryf het as traumaties en vernederend. “Ek het as pa en beskermer van my gesin gefaal,” het hy gesê.

Hy het verduidelik dat die aanval ’n keerpunt was wat hul gevoel van veiligheid onomkeerbaar vernietig het. Volgens hom het die voorval dit duidelik gemaak dat hy nie op voldoende beskerming van die staat kon staatmaak nie, en het dit sy vrees versterk dat soortgelyke geweld in Suid-Afrika sou voortduur of eskaleer.

Die gesin het in Mei verlede jaar ’n “statement of interest” ingedien en ná maande se stilte het hul aansoek in Oktober momentum gekry met ’n vooraf-keuring gevolg deur mediese ondersoeke en ’n onderhoud met Amerikaanse immigrasie-owerhede in November. Hulle is in Desember goedgekeur en het teen einde Januarie in die VSA aangekom.

Albei het gesê hulle is regverdig en professioneel behandel en dat hulle nooit die indruk gekry het dat hul ras teen hulle tel nie.

Muller
Elvera en Anthony Muller saam met een van hul kinders. Foto: Elvera Muller/ Facebook

By aankoms is die gesin by die lughawe ingewag en na permanente verblyf geneem – ’n tweeslaapkamerwoonstel in die middestad van Sioux Falls. Hulle het reeds selfone ontvang en administratiewe prosesse soos sosiale sekerheidsaansoeke en skoolinskrywings vir hul kinders is begin.

Hoewel die uiterste koue winterweer vir hulle ’n groot aanpassing is en hulle hul tuisdorp en familie mis, sê die Muller-egpaar die gevoel van veiligheid en rustigheid is onvergelykbaar.

Anthony het in die onderhoud ’n duidelike boodskap aan Suid-Afrika gerig dat die vlugtelingprogram nie uitsluitlik is vir wit Afrikaners nie. Volgens hom neem ook bruin, Indiër- en Engelssprekende Suid-Afrikaners reeds daaraan deel.

Hy het ander aansoekers egter gewaarsku om nie oorhaastige besluite te neem nie. “Moenie bedank of verkoop voordat jy finaal goedgekeur is nie. Elke persoon se proses verskil.”

Ten spyte van die onsekerheid wat met emigrasie gepaardgaan, sê die gesin hulle het geen spyt nie. Hulle beskryf hul verhuising as ’n “lewenslyn” en sê hul fokus is nou daarop om ’n stabiele en veilige toekoms vir hul kinders te bou.

LEES OOK: Plaaswerk in VSA makliker gemaak

Anthony en Elvera het ten tyde van die onderhoud nog nie werk gehad nie. Hulle was slegs vyf dae in die land en besig om administratiewe prosesse, insluitend aansoeke vir sosiale sekerheidsnommers, te finaliseer voordat hulle wettiglik mag begin werk.

Volgens die onderhoud is daar geen aanduiding dat enige van die twee met ’n voorafgereëlde werksaanbod na Amerika verhuis het nie. Die fokus tydens hul eerste dae in Suid-Dakota was hoofsaaklik op vestiging, behuising en die inskrywing van hul kinders by skole.

Elvera het verduidelik dat sy voor hul vertrek uit Suid-Afrika vir jare in administratiewe poste gewerk het, onder meer by die die departement van landbou. Sy het haar pos eers bedank nadat dit duidelik geword het dat hul vlugtelingaansoek suksesvol was.

Anthony het op sy beurt gesê hy beskik oor bestuurs- en vervaardigingservaring, insluitend werk as produksiebestuurder by ’n fabriek wat landbou-besproeiingspype vervaardig het, asook ervaring in pakhuisbestuur.

Paarl Post se pogings om na die Muller-gesin uit te reik was onsuksesvol.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article