Dobbelbedryf wen, gesinne verloor | skokkende omvang van aanlyn dobbel onthul

Aanlyn dobbel
Aanlyn dobbel floreer terwyl dit huishoudings al meer skaad. FOTO: Unsplash / Priscilla du Preez

Dobbelbedryf wen, gesinne verloor | skokkende omvang van aanlyn dobbel onthul

Aanlyn dobbel
Aanlyn dobbel floreer terwyl dit huishoudings al meer skaad. FOTO: Unsplash / Priscilla du Preez

PRETORIA – Die aanlyn dobbelbedryf het oor ‘n paar jaar met ‘n verstommende 390% gegroei terwyl Suid-Afrikaanse huishoudings weens dié bedryf toenemend onder geldelike druk verkeer.

Miljarde rande word jaarliks in ‘n bedryf verwed wat volgens nuwe navorsing van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) nie net mense se inkomste raak nie, maar ook gesinne se vermoë om die pot aan die kook te hou.

Die omvang van die probleem word in ‘n nuwe SNI-verslag blootgelê wat Solidariteit Maandag 12 Oktober bekendgestel het. Volgens die verslag het aanlyn dobbel in Suid-Afrika vanaf 2021 tot 2025 met 390% gegroei.

Groter toeganklikheid wat selfone tot aanlyn dobbelplatforms gee en die oorweldigende aanlyn dobbelreklame, speel ʼn groot rol hierin.

Hannes Noëth, Nicolien Welthagen en Theuns du Buisson
Hannes Noëth (uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand), Nicolien Welthagen (senior navorsingsielkundige by die Solidariteit Navorsingsinstituut) en Theuns du Buisson (ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut en opsteller van die verslag) by Maandag se bekendstelling. FOTO: Verskaf

In die 2024-’25-boekjaar is sowat R1,5 biljoen (ʼn duisend miljard) in die totale dobbelbedryf verwed, waarvan byna driekwart aanlyn was.

Hoewel dié syfer herhaalde weddenskappe met dieselfde geld insluit, het dobbeloperateurs ná die uitbetaling van winste steeds R74,5 miljard in bruto dobbelinkomste oorgehou.

Dobbel het toenemende houvas

Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die SNI en opsteller van die verslag, is die bevindings ʼn ernstige waarskuwing oor die toenemende houvas wat dobbel op Suid-Afrikaners se geld kry.

“Ons praat hier van ʼn bedryf wat teen ʼn verstommende tempo groei, maar waarvan die koste nie net in rand en sent gemeet kan word nie. Agter hierdie syfers is gewone Suid-Afrikaners wat hul swaarverdiende geld verloor, huishoudings wat reeds sukkel om kop bo water te hou en gesinne wat die gevolge moet dra.

“Die dobbelbedryf wen al die pad, ten koste van Suid-Afrikaanse gesinne. Dit is die werklikheid wat hierdie verslag blootlê en waarvoor ons dadelik antwoorde moet kry,” sê Du Buisson.

Die verslag verwys ook na voorlopige navorsing van die Nasionale Dobbelraad wat daarop dui dat mense toenemend roekelose lenings aangaan en selfs maatskaplike toelaes gebruik om te dobbel.

Internasionale navorsing wat in die verslag bespreek word, verbind aanlyn dobbel met ʼn twee tot vier keer groter waarskynlikheid van probleemdobbel in vergelyking met ander vorme van dobbel.

Du Buisson sê hierdie bevindings wys hoe gebruikers binne enkele sekondes op ʼn selfoon toegang tot dié soort dobbelplatforms kan verkry.

“Die casino is nie meer êrens in ʼn gebou waarheen jy moet ry nie; dit is in jou sak. Jy kan enige tyd, enige plek en met enkele drukke op jou selfoon geld verwed. Wat dit selfs gevaarliker maak, is dat dobbel toenemend as ʼn geleentheid vir ekstra inkomste voorgehou word.

“Vir iemand wat reeds finansieel swaarkry, kan die belofte van vinnige geld besonder aanloklik wees. Maar dobbel is nie ʼn manier om inkomste te verdien nie. Dit kan juis die geld vernietig waarvan ʼn gesin afhanklik is,” sê hy.

LEES OOK: Break the addiction cycle when gambling is no longer a game

Sterker regulering van aanlyn dobbel noodsaaklik

Volgens Du Buisson is Solidariteit se betrokkenheid by hierdie kwessie ʼn logiese uitbreiding van sy verantwoordelikheid om werkende mense se belange te beskerm.

“Ons veg elke dag vir ons lede se werk, hul salarisse en hul bestaansveiligheid. Dit help egter min as mense hard werk om ʼn inkomste te verdien, net om te sien hoe dit deur dobbelverliese uitgewis word. Ons wil nie net beskerm wat mense verdien nie. Ons wil ook help beskerm wat hulle met daardie inkomste vir hul gesinne kan opbou.”

Solidariteit beoog om die verslag te gebruik om sterker regulering van aanlyn dobbel en dobbeladvertensies te bevorder. Dit sluit strenger beperkings op dobbelbemarking, beter toepassing van bestaande verbiedinge op onwettige aanlyn casino’s en groter beskerming van jong mense en ander kwesbare persone in.

Die menslike prys moet verreken word, aangesien dit duidelik is hoe kosgeld nou vir veel meer gesinne as ooit dobbelgeld word.

Dobbelverslawing benadeel nie net dobbelaar nie

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sê die werklike gevaar van probleemdobbel lê daarin dat die gevolge dikwels veel verder as die dobbelaar self strek.

“Wanneer geld wat vir kos, skoolfonds, huur of elektrisiteit bedoel is, weggedobbel word, is dit nie net die persoon wat die weddenskap geplaas het wat verloor nie. Dit raak ook die kinders wat sonder noodsaaklikhede moet klaarkom en die gesin wat die finansiële en emosionele skade moet probeer herstel. Dit raak huwelike, kinders, gesinsverhoudings en uiteindelik hele gemeenskappe,” sê Noëth.

Solidariteit en Solidariteit Helpende Hand meen die buitengewone groei van aanlyn dobbel noodsaak ʼn dringende hersiening van die regulering en bemarking van die bedryf. Die organisasies vra onder meer vir strenger beheer oor dobbeladvertensies, beter beskerming van kwesbare verbruikers en meer doeltreffende regulering van aanlyn dobbelplatforms.

LEES OOK: Gaming today, gambling addiction tomorrow

Selfoonverslawing dra by tot dobbelverslawing

Volgens die verslag is van die negatiewe impakte van dobbelverslawing soortgelyk aan dié van ander verslawings, byvoorbeeld verlaagde produktiwiteit, ʼn afname in gesinswelstand en ‘n toename in kriminele aktiwiteit. Dit het ook ernstige implikasies vir gesondheid, deurdat dit spanning verhoog, verhoudings vernietig, tot gesinsgeweld bydra en tot geestesgesondheidskwessies en selfs selfmoord lei.

Verskeie studies het bevind dat selfoonverslawing, waaraan omtrent ʼn derde van volwassenes in een of ander vorm ly, daartoe bydra dat mense vinniger verslaaf raak aan aanlyn dobbel. Jonger mense gaan gewoonlik meer gebuk onder selfoonverslawing, terwyl veral jong mans deur aanlyn dobbel, spesifiek sportweddenskappe, geraak word.

Verskillende lande reguleer aanlyn dobbel en die advertering daarvan. In Suid-Afrika sal ‘n goeie begin wees om die huidige wetgewing wat wel bestaan, strenger toe te pas.

“Oorhoofs moet die publiek beter opgevoed word oor wat hul kanse regtig is om geld te maak uit dobbelbedrywighede. Die aantrekkingskrag van dobbel was nog altyd dat risiko’s geneem word, met potensiële opbrengs. Dit is ʼn hoë-risiko speletjie, en in sulke speletjies wen ‘n mens selde. Deurdat dit in baie gemeenskappe voorgehou word as ʼn manier om vinnig geld te maak, word hoërisiko-gedrag, wat verwoestende gevolge kan hê, genormaliseer,” sluit die verslag af.


 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article