Jong sokkerspeler sterf in hospitaal, ná beweerde aanranding, marteling

Bradley Hartlief.
Bradley Hartlief.

Jong sokkerspeler sterf in hospitaal, ná beweerde aanranding, marteling


ATLANTIS – Van ‘n belowende sokkerspeler wat saam met Robinvale Spurs die land deurgereis het, tot ‘n jong man wie se lewe op tragiese wyse geëindig het , só verloop Bradley Hartlief (18) se verhaal. Een van verlies, hartseer en vrae oor reg en geregtigheid.

Bradley se ouers, Candice en Emilin Bradley Hartlief, moet nou die ondenkbare verwerk – die verlies van hul seun, wat ondanks groot uitdagings in sy jong lewe steeds ‘n toekoms gehad het om na uit te sien.

Die gesin se wêreld het op Donderdag­oggend 1 Oktober in duie gestort.

'n Gebroke Candice Hartlief by Bradley se sterfbed.
‘n Gebroke Candice Hartlief by Bradley se sterfbed.

Volgens die ouers was Bradley in Avondale onder ‘n boom toe twee mans en ‘n tienerseun hom na bewering genader en daarvan beskuldig het dat hy by iemand se woonplek ingebreek het. Die aanvaller het hom glo na ‘n erf gesleep, veiligheidstewels aangetrek en hom herhaaldelik geskop en geslaan omdat hy nie wou praat nie.

Hulle het hom na bewering ook in ‘n swembad probeer verdrink.

Bure hoor hulpkrete

Getuies het blykbaar gehoor hoe Bradley skree dat hy niks verkeerd gedoen het nie.

Die bure het die polisie ontbied. Volgens die familie het die ver­dagtes glo erken hulle het hom aange­rand “omdat hy nie wou praat nie”.

Bradley was op net 12-jarige ouderdom die slagoffer van ‘n beweerde aanran­ding ná skool. Hy het ‘n kopbesering opgedoen, wat tot ‘n bloedklont op die brein gelei het. Die besering het sy lewe ingrypend verander. Gedragsveranderinge het gevolg en sy skoolloopbaan is drasties ontwrig. Hy moes uiteindelik die skool verlaat, verduidelik sy ouers.

Voor die besering was Bradley ‘n kranige sokkerspeler, wat vir Robinvale Spurs gespeel en saam met die span deur die land gereis het. Sokker, wat eens ‘n belangrike deel van sy lewe was, het egter plek gemaak vir ‘n daaglikse stryd met die nagevolge van sy besering.

Bradley Hartlief.
Bradley Hartlief.

Volgens sy pa het Bradley dikwels doelloos rondgedwaal. Hy het byna elke dag na sy twee oumas in Protea Park gegaan. Sy ouers het geleer om met sy gedrag en kommunikasie-uitdagings saam te leef.

Bradley het dikwels stilgebly en kon in sekere situasies heeltemal vries, vertel sy ouers.

Bradley se pa het vertel dat die gesin aanvanklik aanvaar het hy is weer na sy ouma toe. Teen ongeveer 23:00 het hulle egter bekommerd geraak en begin rondbel. Toe hulle hom nie kon opspoor nie, het hulle die polisie gekontak.

Ernstige toestand in die hospitaal

Die familie het hom uiteindelik in ‘n ernstige toestand in die hospitaal opgespoor, maar kon hom weens sy beserings slegs aan die geboortemerk op sy linkerskouer uitken.

Hulle is meegedeel dat hy reeds bewusteloos by die hospitaal aangekom het.

Lewensondersteunende masjiene is op 7 Oktober afgeskakel en Bradley is op 8 Oktober oorlede.

Drie verdagtes is volgens die familie in verband met die voorval in hegtenis geneem, van wie een minderjarig is. Volgens die inligting wat hulle het, is die saak nog nie op die hofrol geplaas nie en die verdagtes vir eers laat gaan.

Vir Candice en haar gesin bly die pyn van hul verlies onbeskryflik.

Bradley was ‘n jong man, hul seun, ‘n sokkerspeler en ‘n geliefde familielid met ‘n storie wat verdien om gehoor te word.

Die familie het een groot wens – dat die waarheid oor Bradley se dood aan die lig sal kom en dat geregtigheid sal geskied.

LEES OOK: Atlantis-polisie vra hulp met ou sake

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 13 October 2026
    WeskusNuus E-Edition – 13 October 2026

Gift this article