Die Atlantis-polisie doen ‘n beroep op die gemeenskap om na vore te kom met enige inligting wat kan help om vyf onopgeloste moordsake in Atlantis af te handel.
Volgens kapt. Lisa Munro, ‘n plaaslike polisiewoordvoerder, is die motief vir die moorde steeds onbekend en die ondersoeke duur voort.
Die polisie vra dat enigiemand met inligting – hoe gering ofselfs onbenullig dit ook al lyk – dit aan ondersoekbeamptes deurgee. Alle wenke sal vertroulik en anoniem hanteer word.
Die onopgeloste moordsake sluit in dié van:
• Richard Walters, wat op 12 Augustus 2023 omstreeks 23:50 in Palmerlaan, Avondale, naby Parkview Primêre Skool vermoor is;
• Gerswin Joel, wat op 18 Julie 2024 omstreeks 07:30 in Chris Hanistraat, Witsand, vermoor is;
• Chesray Davis, wat op 8 September 2024 omstreeks 21:30 in Castallisstraat, Proteapark, vermoor is;
• Enon Baloy, wat op 7 November 2024 omstreeks 18:30 by ‘n woning in Nthethestraat, Witsand, vermoor is; en
• Sikhonathi Vanda, wat op 13 Julie 2025 omstreeks 09:32 in Chris Hanistraat, Witsand, vermoor is.
Munro doen ‘n ernstige beroep op inwoners wat moontlik iets gesien of gehoor het, of oor enige inligting beskik wat die ondersoeke kan help, om dit met die polisie te deel.
Enigeen met inligting kan die polisie se Misdaadstopnommer by 08600 10111 skakel, die Atlantis-polisie by 021 571 8500 kontak, of die MySAPS-toepassing gebruik om ‘n wenk anoniem deur te gee.
Die polisie beklemtoon dat selfs die kleinste stukkie inligting ondersoekers kan help om hierdie sake op te los en geregtigheid vir die slagoffers en hul families te bring.




