Terwyl baie betogings reeds gehou is en bendebase gevra is om op te hou, duur die skietery steeds voort.
In die jongste voorval is ‘n jongman verlede Sondagaand (5 Junie) langs die Mamre/Darling-pad doodgeskiet.
Volgens kapt. Lisa Munro, ‘n polisiewoordvoerder, is geen verdagtes al aangekeer nie. ‘n Betroubare bron het gesê die oorledene is vermoedelik na die toneel geneem en met twee kopskote “tereggestel”.
Munro sê die liggaam is die volgende oggend ontdek. Sy het bevestig die oorledene is op die toneel dood verklaar.
Volgens Munro is verskeie ander voorvalle aangemeld waar niemand beseer is nie. Volgens Peter Stoffberg, ‘n gemeenskapsaktivis, sal meer drasties opgetree moet word en dié wat sulke opdragte gee, moet ook geteiken word.
Volgens hom het die dorp ‘n spesialiseenheid nodig om bendeverwante sake te ondersoek.
WeskusNuus het by ‘n speurder, wat groot sukses in Atlantis behaal het en bendeleiers in verskillende sake tot meer as 1 500 jaar tronkstraf laat kry het, gaan kers opsteek.
Atlantis het jare gelede geskiedenis gemaak deur die eerste suksesvolle saak ingevolge die wet teen georganiseerde misdaad (POCA) suksesvol in die hooggeregshof te bring.
16 bendelede destyds tronk toe
Die Wes-Kaapse hooggeregshof het 16 lede van die Fancy Boys-bende aan verskeie ernstige misdrywe skuldig bevind, waaronder moord, poging tot moord, dwelmhandel, onwettige besit van vuurwapens en ammunisie en oortredings van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (Wet 121 van 1998; ook POCA genoem).
Dit was ‘n baanbrekersaak omdat die staat nie net die beskuldigdes vir individuele misdade vervolg het nie, maar ook bewys het hulle het as ‘n georganiseerde misdaadbende opgetree. Dit het die suksesvolle toepassing van POCA teen ‘n hele bende moontlik gemaak. Die skuldigbevindings het die kern van die Fancy Boys-bende “vernietig” en POCA-vervolgings teen volledige bendestrukture het daarna al meer algemeen geword.
Twee vermeende huurmoordenaars van die 28’s-bende, Craig Hendricks en Zayne Booysen, is in die Wes-Kaapse hooggeregshof aan twee beplande moorde skuldig bevind, asook aan ‘n oortreding van artikel 9(1)(a) van POCA, wat lidmaatskap van ‘n misdaadbende strafbaar maak. Albei is drie keer lewenslank tronk toe gestuur en tot nog 80 jaar gevonnis. Die NVG het dit as nog ‘n belangrike sukses in die stryd teen bendegeweld in Atlantis beskryf.
Die leier van die G Units en vier ander is vir ongeveer 200 jaar tronk toe gestuur in nog ‘n saak wat ‘n bende vernietig het.
POCA is moeilik om te bewys. Die staat moet nie net bewys dat iemand ‘n ernstige misdaad gepleeg het nie, maar ook dat hy of sy lid was van ‘n misdaadbende soos omskryf in die wet.
Daarom word baie bendelede vir moord, dwelmhandel of vuurwapenmisdrywe vervolg sonder dat POCA-aanklagte bygevoeg word. Die gebruik van POCA in Atlantis het hoofsaaklik op drie gebiede gefokus – die vervolging van bendelede vir deelname aan ‘n misdaadorganisasie, verbeurverklaring van geld en ander bates wat uit misdaad verkry en die teiken van georganiseerde dwelmhandel en geweldsmisdaad was.





