Familie, vriende en kollegas op die toneel waar Haywin Ruiters (22) glo homself geskiet het. Foto: Murphy Roberts


“Ek is jammer wat ek doen, maar onthou my vir wie ek is.”

Só het konstabel Haywin Ruiters (22) geskryf voordat hy homself glo doodgeskiet het. Ruiters is sowat drie maande gelede van die Milnerton-polisie af na Atlantis verplaas en het by die misdaad­voor­komings­eenheid gewerk.

Dié jong man, wat drie jaar ’n polisieman was, het glo Vrydag (5 Augustus) aan diens gekom, ’n vuurwapen uitgeteken, in ’n patrolliewa geklim, na die plaaslike nywerheidsgebied gery en homself geskiet.

Die konstabel se dood laat meer vrae as antwoorde. Sy ma, Whilemiena, sê haar seun het soos op enige ander dag gaan werk en hulle het niks vermoed nie.

Die gebroke ma vertel: “Sy pa het hom die middag werk toe geneem sonder dat ons enigiets kon agterkom. Ek was baie bekommerd oor my kind en het ’n vermoede gehad dat hy geboelie word, maar ek kan nie sê deur wie nie. My kind het so baie gedrink dat dit my bekommer het en ek wou weet wat in sy lewe aangaan.”

Volgens Whilemiena het sy nog in die week van Ruiters se dood met die polisie gaan praat, omdat sy bekommerd was oor hom. “Hulle het gedink hy is op tik, maar ek het hulle verseker hy is nie, maar drink wel baie,” vertel sy.

“Ek wens ons het al die antwoorde gehad en ons wonder wat hom na dié daad gedryf het. Hy was wel in ’n toxic verhouding, maar het alles verlede jaar beëindig,” sê sy ma.

Whilemiena meen haar seun het ook probleme gehad toe hy in Milnerton gewerk het. Sy sê hy het sielkundige behandeling ontvang, maar wou nie by die huis “oopmaak” nie.

Volgens eerw. Chris Nissen, Wes-Kaapse kommissaris van die menseregtekommissie, is dit baie tragies dat “so ’n jong man sy eie lewe moes neem”.

“Ons sal seker nooit weet wat hom gedryf het om sy eie lewe te neem nie, maar ek hoop sy familie sal berusting kan vind. Ons gebede en ondersteuning is met die familie,” het Nissen Vrydag op die toneel gesê.

Nissen meen die ondersoek sal bepaal hoekom die polisiebeampte sy eie lewe geneem het en hy wil graag met die Atlantis-polisie vergader om hom van die werksomstandighede te vergewis. Bewerings dat Ruiters dalk deur bendelede geboelie is, kon nie bevestig word nie.

Volgens Kapt. FC van Wyk, provinsiale polisie woordvoerder, is ’n geregtelike nadoodse ondersoek gelas.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus – E-Edition 10 February 2026
    WeskusNuus – E-Edition 10 February 2026

Gift this article