GORDONSBAAI – “Ongelukke gebeur só vinnig en die lewe is uiters broos.”
Só besef Andrew Camphausen van Gordonsbaai nadat ‘n gehuurde vissersboot met sy gesin aan boord in plaaslike waters omgeslaan het.
Gelukkig was drie mans van Strand naby, wat hul lewe gered het.
“Engele is nie ver van ons as mense af nie en ons engele het in die vorm van Jean, Barend en George gekom,” sê Camphausen.
Die ongeluk het tydens ‘n hengeluitstappie in die feestyd gebeur. Camphausen sê sy ses familielede was op die boot toe dit Dinsdag 23 Desember omgeslaan het.
Die gesin – Camphausen en sy vrou, Petro, sy stiefdogter Cristine en haar man, Clint, hul seun Cullen Bailey en sy vriendin, Natasha Heaney – het van Johannesburg gekom om vakansie te hou en wou die dag op die water deurbring.

Camphausen het die boot ‘n paar dae tevore bespreek nadat hy die kaptein gekeur het. Hy is egter op die dag ingelig dat die 58-jarige kaptein ‘n nuwe anker moes gaan koop en hy het gevolglik gereël dat hulle ‘n uur later by die Gordonsbaai-hawe sou wees.
Dit was een van talle rooi vlae wat Camphausen in daardie stadium misgekyk het. Hy onthou dat die kaptein om 10:30 opgedaag het en toe merk Camphausen nog gevaartekens.
“Toe my vrou in die boot klim, het sy vir reddingsbaadjies gevra, maar die kaptein het haar versoek geïgnoreer,” vertel hy. “Ek het ook gesien die vaartuig is baie klein en het hom verskeie kere gevra of die boot groot genoeg vir ons almal sou wees.”
Hy vertel voorts die kaptein het hom wel verseker dat die boot groot genoeg is en hulle sou na die oop water vertrek.
By ‘n rif sowat 2,8 km van die hawe af het die kaptein egter die enjin afgeskakel en die nuwe anker laat sak.
Camphausen se gesin het ná ‘n rukkie gesien die boot neem water in. “Ek het voorin gesit en nie hul klagtes agter my gehoor nie. Toe ek weer kyk, was die water reeds enkeldiep,” sê hy.
Die kaptein het Cullen gevra om die enjin weer aan te skakel. Nadat Cullen dit nie kon regkry nie, het die kaptein self ingespring, maar ook tevergeefs.
Die boot het skielik omgeslaan.
“Dit is die mees traumatiese gebeurtenis wat ek nog ervaar het,” het Camphausen gesê.
Ten spyte van sy benoudheid het hy egter daarin geslaag om kalm te bly en twee reddingsbaadjies, wat onder in die vaartuig gestoor was, aan sy vrou en Natasha vas te maak, aangesien hulle nie sterk swemmers is nie.
Gelukkig kon die kaptein vier noodfakkels in die hande kry en het dit uit die omgeslane boot afgevuur.
Ongeveer 45 minute later het Jean du Toit, Barend Fourie en George Hay die fakkels gesien waar hulle visgevang het.
“Toe die deinings sak, het ons ‘n boot wat omgeslaan lê, gesien en George het dadelik daarheen gevaar,” het Du Toit gesê. “Die eerste ding wat deur my kop gegaan het, was of daar kinders in die water was.”
Du Toit het uit instink in die water geduik en tot by die gesin geswem, waar hul boot onderstebo in die water gedobber het.
Hy het van die slagoffers na sy boot gehelp, waar Fourie hulle een vir een ingelaai het. Hay het vinnig opgetree en die seereddingsdiens ontbied om verdere hulp te vra.
“Toe voel ek iets is fout, want die vislyne was steeds in die water en ek moes dit sny,” het Du Toit gesê.
Ná 90 minute in die water is Camphausen en Clint deur die seereddingsdienspersoneel gered en na die hawe geneem, waar nooddienste reeds stabiliserende behandeling op die gesin toegepas het.
Die Gordonsbaai-polisie het bevestig die voorval het inderdaad plaasgevind en vermoed die boot het omgeslaan omdat dit oorlaai was.
Ondersoek word ingestel teen die kaptein vir die bedryf van ‘n kommersiële vaartuig sonder ‘n geldige lisensie, nadat bevind is sy lisensie en registrasie het verval.
Die boot is opgespoor en word as bewysstuk gehou.
Ten spyte van die trauma en die hangende ondersoek bly die familie dankbaar vir hul redding.
“Dankie aan die Hemelse Vader, my drie engele, die seereddingsdiens en nooddienste,” sê Camphausen. “As dit nie vir hulle was nie, sou ek en my gesin nie vandag hier gewees het nie.”
Vir Du Toit is dit ‘n ware Kers- wonderwerk. “Dit laat my besef hoe kosbaar familie is,” sê hy, wat self ‘n man en pa van twee kinders is.






You must be logged in to post a comment.