Hoewel Mandy Bianca Ludicks van Kimberley nie iemand is wat voorheen veel gelees het nie, het sy ‘n boek geskryf wat nou gepubliseer is.
Mandy, ‘n 36-jarige ma van vier tieners, gebruik in dié debuutpublikasie, “The Good Shepherd”, haar storie om ander te inspireer om hoop, identiteit en geloof te vind.
“Deur dié boek te skryf het ek myself gevind,” vertel sy.
Mandy het in Kimberley skoolgegaan en haar eerste ervaring van skool en die bewusmaking van haar identiteit was vir haar uiters negatief. Kinders kan wreed wees, en van haar eerste skooljaar moes sy hoor dat sy nie soos hulle is nie.
By die huis was sy haar ouers se prinsessie, en sy kon nie verstaan dat sy nie in die kinders by die skool se oë aanvaarbaar was nie. Sy het begin glo sy moet soos hulle wees.
“Toe ek grootword moes ek myself soos dié kinders laat wees. Toe trou ek te vroeg, pleks van myself te leer ken.”
Vier kinders en verskeie werke later, was ‘n egskeiding onvermydelik.
“Dit was baie traumaties om te skei. Ek wou nie skei nie, maar dit moes net gebeur. Twee gebroke mense kan nie saam heel word nie tensy jy daarmee deal.
“Ek het toe ook nie geweet pyn moet kom om jou te leer nie. As jy jou kop hou, en deur die pyn gaan, sal jy sterker anderkant uitkom,” vertel sy. Boonop was daar die besef dat die egskeiding ook vir die kinders baie moeilik was.
“Mens dink altyd die goed daar buite is nie myne nie – tot dit met jou gebeur.”
Boek kom met ‘legkaartstukkies’ van onthou bymekaar
Ná haar egskeiding het sy een nag tussen slaap en wakker die woord “boek” gehoor.
Sy het begin skryf in enige boek wat sy in die hande kon kry, en het later op ‘n rekenaar begin werk.
“Jesus het gekom om my te help op ‘n plek waar niemand my kon help nie. Al was my pa en ma, wat van kleins af my cheerleaders was, daar en ook my kinders.”
Hy het ook vir haar die boek se naam gegee, die gawe om te skryf, en as te ware legkaartstukkies wat elk ‘n herinnering van vroeër was. Rondom dit het Mandy haar reis deur afsondering, stryd en genesing in die boek beskryf.
Tydens die skryf van die boek het sy saans vroeg gaan slaap, so elfuur opgestaan en deur die nag tot vieruur geskryf. Sy het dan tot vyfuur weer gaan slaap, waarna sy opgestaan het om die kinders wakker te maak.

“Die boek het vir my deur ‘n baie diep dip gevat, en die boek het my myself laat vind.”
Sy het die boek in 2023 begin skryf, en in omtrent ‘n jaar voltooi. Daarna het verskeie uitdagings die selfpubliseringsproses vertraag, en uiteindelik kon sy haar gedrukte boek in April vashou.
Wyser en sterker
Mandy beskryf die boek as met ‘n geestelike, dog praktiese inslag – soos hoe ‘n mens vrees in jou lewe kan hanteer.
Sy deel ook dat drome en wense, wat jy dink onmoontlik is, kan gebeur.
“I am wonderfully made, maar ek moes dit eers leer. Hoe wonderlik om te weet jy het ‘n Hemelse Vader; jy kan jou drome volg en dit kry. Ons moet net die vrees oorkom; mens moet vir God op ‘n skaal vertrou wat jy nog nooit vertrou het nie om na die volgende vlak te gaan.
“Fearfully and wonderfully made – ek het geleer om dié woorde van God bo-op die woorde van die kinders van die skool te sit.
“Vandag is ek wyser en sterker. Ek kan sien hoe God my gevat het, my gewys het waar ek my krag verloor het, en waar ek dit teruggekry het. En die beste is: Jy word ‘n blessing vir ander ook.”
Mandy het intussen aan nog twee boeke begin skryf.
- Om ‘n kopie van “The Good Shepherd” te bekom, kontak haar op 063 736 7874.
LEES OOK: Kimberley-skrywer se debuutroman ‘stilistiese les’ vol lewenswyshede






