Jeremy Fasser, burgemeester van Stellenbosch.
Jeremy Fasser, burgemeester van Stellenbosch.

Die opvolgvergadering wat die Stellenbosch-munisipaliteit vir Woensdag 25 Maart geskeduleer het, is die aand weer uitgestel nadat bywoners kapsie gemaak het teen die geleentheid.

Die munisipaliteit het Woensdagmiddag in ‘n plasing op sy kommunikasiekanale inwoners uitgenooi na ‘n gemeenskapsvergadering dieselfde aand in die Hoërskool Lückhoff se saal. Dit kom nadat ‘n gemeenskapsvergadering die vorige week gehou is.

By dié vergadering het die burgemeester, Jeremy Fasser, onder meer die drie gesinne wat wetlik uit hul woning in Rustenburgweg, Idasvallei gesit is, bespreek.

LEES OOK: Inwoners verhoed Stellenbosch-munisipaliteit om nuwe strukture op te rig

Gemeenskapslede luister na die burgemeester, Jeremy Fasser, op 'n gemeenskapsvergadering oor behuising. 
Foto: Yaël Malgas
Gemeenskapslede luister na die burgemeester, Jeremy Fasser, op ‘n gemeenskapsvergadering oor behuising. Foto: Yaël Malgas

By die opvolgvergadering was daar egter nie veel nuus oor die gesinne se huidige omstandighede nie. Met die uitsetting het die munisipaliteit gespook om alternatiewe blyplek vir die inwoners te vind, maar teen daardie Woensdagaand was hulle steeds sonder heenkome.

Inwoners van Idasvallei het gekeer dat Wendyhuise op ‘n oop stuk grond in Kreefgat opgerig word, en later die aand het boere glo gekeer dat die gesinne by die munisipaliteit se Mountain Breeze-oord geakkommodeer word.

Sedertdien het die gesinne by vriende en familie gebly, maar daar is steeds geen uitsluitsel oor die munisipaliteit se oodbehuisingsbeleid nie.

Die munisipaliteit is verplig om noodbehuising aan inwoners te verskaf wat weens wettige uitsettings of rampe hul wonings kwyt is.

Fasser het verseker noodbehuising sal op vandeesweek se raadsvergadering bespreek word, maar Dinsdagoggend (31 Maart) is die betrokke raadsitem weer van die agenda onttrek.

Op die gemeenskapsvergadering sou Fasser en beamptes van die munisipaliteit die plan om 17 erwe in Talanastraat in Idasvallei deur middel van ‘n openbare veiling te verkoop, bespreek.

Die Stellenbosch-munisipaliteit beplan om dié 17 erwe in Idasvallei op ‘n openbare veiling aan Idasvallei-boorlinge te verkoop.

LEES OOK: Stellenbosch-munisipaliteit kyk om 17 erwe in Idasvallei op te veil

behuising
Inwoners staan by die stuk grond in Kreefgat, Idasvallei, waar die Stellenbosch-munisipaliteit verlede week noodbehuising sou oprig. Die gemeenskap het dié planne egter in die wiele gery.
Foto: Yaël Malgas

Inwoners van Talanastraat het op die vergadering gesê hulle is nie ten gunste van dié plan nie. Volgens inwoners is dit die enigste speelplek vir hul kinders.

Ander het gekla dat 17 erwe gans te veel is om in die beperkte ruimte in te pas.

Klagtes oor die sloot agter die huidige wonings is ook genoem. Inwoners sê die sloot oorstroom gereeld wanneer dit reën en meen om nog wonings te bou sal die probleem vererger. Die inwoners het ‘n versoekskrif aan Fasser oorhandig met hul insae en klagtes.

Die vergadering het nie op veel uitgeloop nie.

Meeste bywoners het gekla oor die kort kennisgewing en was van mening behuising is te belangrik om slegs met ‘n handjievol gemeenskapslede te bespreek en gevra dat die vergadering weer uitgestel word.

‘n Nuwe datum vir die vergadering is nog nie bekend gemaak nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article