Hetsy dit jare lange beplanning is wat nou vrugte afwerp of ‘n politieke foefie – Jamestowners is dit eens dat staatsgesubsidiërde behuising ‘n groot aanwins vir hul gemeenskap is.
Nuwe behuisingsprojekte kom vir Jamestown en Kylemore. Die amptelike sooispit vir die Jamestown-behuisingsprojek is op Dinsdag 27 Oktober op die oop stuk grond langs die plaaslike sportterrein gehou. Hier het Stellenbosch se burgemeester, Jeremy Fasser, en die Wes-Kaapse minister vir infrastruktuur, Tertuis Simmers, met amptenare en gemeenskapslede byeengekom.
Die projek sal op ‘n gedeelte van die plaaserf 527 gehuisves word.Die vereistes vir die begunstigdes van fase 2 en 3 vir die gemengde behuisingsontwikkeling is op Woensdag 21 Oktober tydens die laaste sitting van die huidige munisipale raad goedgekeur.
LEES OOK: Noodbehuising deur inwoners van Jamestown gefnuik

Plek vir tydelike behuising
Fase 2 sal bestaan uit 167 enkelresidensiële erwe, 19 aanvullende behuisingserwe met gedeeltelike subsidies, een gemeenskapsaal, ‘n openbare speelruimte, ‘n taxistaanplek en ‘n openbare straat.
Fase 3 sal bestaan uit 129 enkelresidensiële erwe, ‘n openbare speelruimte en ‘n openbare straat.
Volgens die Stellenbosch-munisipaliteit se vereistes sal voorkeur gegee word aan begunstigdes wat hul wonings deur middel van wettige uitsettings kwyt is; ander families wat as gevolg van ‘n soortgelyke proses nie huise het nie; militêre veterane wat deur die departement van militêre veterane geïdentifiseer is; sowel as diegene wat op die Jamestown-behuisingswaglys is.
Dié laaste groep begunstiges sal gedienste erwe ontvang en sluit inwoners in wat tans in agterplase woon.
Laastens sal die behuisingsontwikkeling ook as tydelike behuising dien, met twee gesinne wat op een erf gehuisves sal word en ablusiegeriewe sal deel.

Skepties, maar nou verlig
‘n Komitee vir behuisingsbegunstigdes was verkies en is saamgestel uit die lede van die breër Jamestown-behuisingsvraagdatabasis, die omliggende plase, die verteenwoordigers van diegene wat uit Blaauwklippen uitgesit is, en wyk 21 se wykskomitee.
“Ek hoop net alles wat hulle vandag hier gesê het, word waar,” was Dinsdagmiddag een inwoner se siening.
Sommige Jamestowners het ook die tydstip van die geleentheid bevraagteken, aangesien die plaaslike verkiesing komende Woensdag (4 November) geskied.
Ander inwoners, soos Susanna Bezuidenhoudt, het egter gesê dit is ‘n blye dag ten spyte van die tydstip. Bezuidenhoudt sê sy is bly vir haar broer en skoonsuster, wat nou onder die begunstigdes van die behuisingsprojek is.
“Hulle wag sedert 2015 vir hul eie woning, daarom is dit gewis iets om oor bly te wees. Ek is baie opgewonde, want hierdie aankondiging is ‘n dag waarvoor ons lank gewag en bid het,” verduidelik sy.
Die Jamestowner Karl Kok sê toe daar in Januarie sprake was dat die behuisingsprojek later vanjaar sal begin, was hy glad nie oortuig nie.
“Ek moet vandag bieg ek het nie die munisipaliteit geglo nie. Ek was reeds wanhopig dat hierdie projek regtig gaan begin, want die projek word al jare lank beloof. Tog moet ek vandag verskoning vra – ek weet nie mooi vir wie nie – want die Here het my verkeerd bewys en hier is die dag nou,” skerts Kok.
Volgens Stuart Grobbelaar, ‘n woordvoerder vir die munisipaliteit, sal bouwerk binne die volgende paar weke begin.
LEES OOK: Head to head: Stellenbosch’s mayoral hopefuls clash at Woordfees debate





You must be logged in to post a comment.