Haweloses in Stellenbosch
Vennote, kliënte en belangstellendes het verlede Vrydag (9 Oktober) by die Pleinstraat-biblioteek byeengekom om dienste en inligting oor dienste met Stellenbosch se haweloses te deel. Foto; Yaël Malgas

Haweloses touwys gemaak oor Eikestad se vele dienste

Haweloses in Stellenbosch
Vennote, kliënte en belangstellendes het verlede Vrydag (9 Oktober) by die Pleinstraat-biblioteek byeengekom om dienste en inligting oor dienste met Stellenbosch se haweloses te deel. Foto; Yaël Malgas

Sommige van Stellenbosch se haweloses sit bedags op sypaadjies, vele loop rond met sakke vol bottels en ander skarrel heeldag om ‘n brood te kan bekostig. Daarom het die plaaslike munisipalteit verlede Vrydag (9 Oktober) gepoog om sy diens ‘n bietjie nader aan haweloses in Stellenbosch te bring.

Wêreld-hawelosesdag is die afgelope Saterdag (10 Oktober) herdenk en as deel hiervan het die Stellenbosch-munisipaliteit se departement van gemeenskapsontwikkeling saam met die biblioteekdienste, die departement van maatskaplike ontwikkeling, die Stellenbosch-nagskuiling, Touching Nations, die U-turn Homeless Ministries en die Stellenbosch Homelessness-forum gewerk om haweloses by die Pleinstraat-biblioteek te ontvang.

Die hawelose inwoners het in die onthaalsaal onder meer geleer oor hul menseregte, waar om aan te klop vir hulp met verslawing en het ook vinnige, basiese mediese toetse ondergaan. Diegene wat wel onderliggende kwale, soos TB, het, is na ‘n kliniek vir verdere behandeling verwys.

LEES OOK: Haweloses in Stellenbosch só bygestaan met Street Store

Volgens Priscilla Napoleon van die Stellenbosch-gemeenskapsontwikkelingspan sluit die mandjie dienste goed aan by die Stellenbosch-munisipaliteit en vennote se twee ander groot projekte vir haweloses – die wintergereedheidsgeleentheid en die jaarlikse Stellenbosch Street Store.

“Die inisiatief het ten doel om kliënte bewus te maak van die beskikbare hulpbronne, die verwysingsweë en ondersteu- ningsdienste vir mense wat haweloosheid ervaar. Die geleentheid het ook erkenning gegee aan bestaande leemtes in dienslewe- ring en die belangrikheid van voortgesette samewerking tussen belanghebbendes om die uitdagings van mense op straat die hoof te bied,” verduidelik Napoleon.

Hoewel die geleentheid as een vir haweloses bestempel is, is alle kliënte nie noodwendig sonder heenkome nie. Talle van die dorp se swerwers is nie noodwendig haweloos nie. Dit is eerder die geval dat hierdie dagwandelaars (day strollers) bedags herwinbare materiaal in die dorp versamel of vir geld bedel en saans huis toe gaan, na ‘n woning.

Haweloses in Stellenbosch
Priscilla Napoleon, van die Stellenbosch-gemeenskapsontwikkelingspan, open die sessie wat deel is van die munisipaliteit se verskeie projekte wat geskoei is op kwesbare en hawelose inwoners.

Die Stellenbosse vennote poog nou saam om meer statistieke oor plaaslike hawelo- ses, dagwandelaars en soortgelyke inwo- ners in nood te versamel.

Onder die sprekers by die geleentheid was die span van U-turn. Dié organisasie poog steeds om staanplek vir sy dagdienste-bus in Stellenbosch te kry. Hier sal haweloses ondersteuningdienste ontvang, hulp kry om werk te soek en ‘n plek om ‘n warm stort te geniet. Tot nou toe kon geen ge- skikte ligging vir dié dienste in Stellenbosch as dorp gevind word nie.

LEES OOK: Homelessness set to be countered in Stellenbosch through U-Turn

Die Stellenbosch-nagskuilingspan het op hul beurt verduidelik wat hul kliënte kan verwag en die biblioteek-personeel het vertel van die gratis internet-toegang en die werksoek-hulp wat hulle aanbied.

Nichola Damon (33) van Macassar sê die dag was baie insiggewend. “Nou weet ons waarheen [om te gaan] as ons siek is en hoe die hulpprogramme van begin tot einde werk,” sê Damon.

Sy is die afgelope paar weke al in die Stellenbosch-nagskuiling. “Ek dink dit was ‘n goeie sessie. Dit gebeur gereeld dat mense lelik en ombeskof met ons is, maar nou weet ons om polisiekantoor toe te gaan. Ons het ‘n reg om ‘n klagte aan te meld.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article