Stellenbossers wat tans haweloos en in nood is, het die afgelope Saterdag (30 Mei) die geleentheid gehad om klere te ontvang, iets te kry om te eet en meer te leer oor watter organisasies ondersteuningsdienste bied.
Die derde Stellenbosch Street Store is die naweek in die plaaslike stadsaal aangebied.
Die geleentheid is deur Serve Stellenbosch van stapel gestuur met ondersteuning van die Stellenbosch-nagskuiling, die Stellenbosch Homelessness-forum en die Stellenbosch-munisipaliteit se gemeenskapsontwikkelingspan.
Hier het Stellenbossers wat dit die nodigste het die kans gehad om onder meer warm klere en ‘n kombers te kies en saam met die vrywilligers te bid.

Volgens Robyn Buresh, projekkoördineerder van Serve Stellenbosch, het die projek gekom nadat plaaslike kerke saamgespan het om haweloses te help.
“Benewens die onmiddellike hulp wat die kliënte ontvang, is dit ook ‘n geleentheid vir lede van die publiek om met hierdie mense kontak te maak.
Deel van projek is om die publiek op te voed oor hoe om met haweloses om te gaan. Ons vrywilligers ontvang vooraf opleiding en oriëntasie vir die Street Store,” verduidelik Buresh.
Altesaam 538 mense het deur relings vol baadjies en netjies hope klere en skoene gesoek na gepaste kledingstukke.
Elsie Fortuin (59) vertel sy het ‘n besonderse positiewe ervaring gehad en spog haar nuwe warm baadjie is splinternuut. “Dit het nog die prys aangehad,” vertel sy.
Fortuin het ‘n hele nuwe uitrusting gekies – van ‘n bloes tot sokkies – en het gesê sy sou dié nuwe klere Sondag aantrek. “My kleinseun is lid van die kerk se brigade en ek gaan [Sondag] saam met hom kerk toe,” het die trotse ouma verduidelik.
Die Stellenbosch-nagskuiling se Melrisha Hendrikse en Haylene Augustus was ook byderhand om die kliënte meer te vertel oor die dienste wat hier beskikbaar is. Die nagskuiling, langs die Cloetesville-polisiekantoor, het 76 beddens en is tans sowat 80% vol.
Kliënte ontvang nie net ‘n bed vir die aand nie, maar word ook gehelp om aansoek te doen om identiteitsdokumente en ontvang verwysings na noodsaaklike dienste.
Priscilla Napoleon van die munisipaliteit se gemeenskapsontwikkelingspan, meen die Street Shop het ‘n integrale deel geword van die munisipaliteit se wintergereedheidsporgram.
“Hierdie dag gee die mense ‘n kans om met waardigheid hanteer te word. Dit is ook vir die munisipaliteit om vir hulle te wys daar is ‘n pad om nie meer haweloos te wees nie en dat daar hulp is en vele ondersteuningsdienste.”
• Om by Serve Stellenbosch betrokke te raak stuur ‘n epos aan Buresh by robyn@servestellenbosch.co.za. Om by die forum betrokke te raak kontak Jacobs by jasmine.raju.jacob@gmail.com.










You must be logged in to post a comment.