Alexis Newman
Jamestowner Alexis Newman (8), en ouers, Rolanda en Charl.

Klein Jamestowner (8) binnekort op die kassie te sien


Klavier, skaak en hokkie is deel van klein Alexis Newman se weeklikse skedule.

Nou het dié besige Jamestowner toneelspel by haar vele buitemuurse aktiwiteite gevoeg en sal sy eersdaags op die kassie te sien wees.

Die borrelende agtjarige is ‘n leerder aan die Laerskool Eikestad. Sy moes verlede jaar ‘n paar dae van skool verpas nadat sy ‘n rol in Beter as gister losgeslaan het.

“Dit was baie lekker,” vertel sy oor haar ervaring op die stel van dié nuwe kykNET-dramareeks.

Haar pa, Charl, het verlede jaar gewonder hoe hy sy jongste kind in toneelspel kan kry. Hy het toe die regisseurs-paar en mede-Jamestowners Corné en René van Rooyen gevra en ‘n paar wenke ontvang. Dié twee is die skrywers en regisseurs agter Alles Malan en Summertide.

Alexis Newman
Jamestown se jongste televisiester, Alexis Newman (8), saam met haar troste ouers, Rolanda en Charl. Foto: Yaël Malgas

Nadat hulle op ‘n advertensie op soek na meisies vir ‘n nuwe reeks afgekom het, het Alexis en haar ouers verlede April na Kaapstad vir haar heel eerste oudisie gereis. Daar het Alexis dadelik die vervaardigers laat skaterlag.

“Daar was baie kameras. Ek het met die juffrou gepraat en dan het hulle gesê ek moet dit weer doen, maar anders probeer. Hulle het vir my gesê hoe om my gesig te verander. Ek was nie senuweeagtig nie – dit was lekker,” onthou sy.

‘Sy kry dit van haar pa’

Weke later het Charl die oproep gekry dat Alexis die rol van die sesjarige Katinka sal vertolk. “Sy is soos haar pa – nie bang of skaam nie. Alexis kry dit beslis van hom,” vertel haar ma, Rolanda, skertsend.

Charl sê die idee was nooit om Alexis ‘n aktrise of ster te maak nie, maar liewer dat toneelspel nuwe deure vir haar sal oopmaak. “Indien sy nie die ervaring geniet het nie of dit nie weer wil doen nie, dan sal sy nie. Ons het hard gewerk om seker te maak sy is goed voorberei en het haar woorde geken op die stel, maar ons wou nooit te veel druk op haar plaas nie. Ons is baie trots op haar, veral omdat sy ‘n rol gekry het, ná haar eerste oudiese,” vertel hy. Haar broers Carlisle en Kallum was veral trots.

Charl sê Alexis se gawe om vinnige maatjies te maak en aan te pas by verskeie situasies het tot haar sukses op die reeks bygedra.

Beter as gister is die Van Rooyens se jongste reeks en handel oor vier families en fokus veral op die mans se rol in elke gesin. Elton Landrew vertolk die rol van Katinka se nors 62-jarige oupa wat onverwags uitvind hy het ‘n kleindogter.

Ook in die rolverdeling is bekendes soos Frank Rautenbach, Neels van Jaarsveld en June van Merch. “Ons het onlangs ‘n advertensie op die televisie gesien en toe sê sy ‘daar is my kollega’ oor Frank,” vertel Rolanda.

Alexis se tonele is oorwegend oor naweke verfilm en wanneer nodig het haar skool haar verfilmingskedule akkommodeer. Só goed was sy voorbereid dat lede van die gesoute vervaardigingspan nie kon glo dit was die Jamestowner se eerste produksie nie.

‘Sy wil aan alles deelneem’

Rolanda sê dit het haar glad nie verbaas dat Alexis die verfilming geniet het nie, aangesien sy daarvan hou om nuwe ervarings te hê.

“Sy wil aan alles deelneem, of dit atletiek is en al wen sy nie. Verlede jaar het sy haar ingeskryf vir die skool se swemgala en vroeër vanjaar moes ek net keer of sy het dieselfde gedoen.”

Rolanda bieg sy het ook die tyd op die stel geniet, want hoewel Alexis nie altyd besef het hoe beroemd haar kollegas is nie, was dit vir ma en pa genotvol om die Suid-Afrikaanse sterre te ontmoet.

LEES OOK: Nuwe kykNet-dramareeks plaas die kollig op pa’s

Hoewel Alexis nou haar debuut voor die kamera gemaak het, sê dié gr.2-leerder haar droom is om ‘n dokter of tandaarts te word.

Maar sou sy genooi word om aan ‘n tweede reeks van Beter as gister deel te neem, is sy gereed. Intussen oefen sy klavier vir Eisteddfods, speel hokkie en maak seker haar tuiswerk is gedoen.

“Ons gee alle eer aan God en is dankbaar vir almal se ondersteuning,” sê Charl oor die ervaring.

Beter as gister begin Dinsdag 30 Junie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article