Die leerders van Idasvallei se naskoolprogam, die Academic Support-sentrum, het op Woensdag 26 Augustus ‘n skenking van die plaaslike Rotariërs ontvang om die laaste van die winterkoue weg te hou.
Die Rotariër-klub van Stellenbosch het altesaam 50 komberse aan die sentrum geskenk. Die sentrum is verlede Mei deur Amanda Fischer en Eon Hendrikse gestig.
Hier kry leerders van die buurt hulp met alles van wiskunde tot navorsing vir take. Die sentrum word by die Idasvallei-sportterrein gehuisves en deur die wyksraadslid Roy van Rooyen se kantoor ondersteun.
LEES OOK: Nuwe sonars geskenk

Almal span saam
Fischer en Hendrikse verduidelik die naskoolprogram is iets wat tussen hul voltydse werk ingepas word, maar met die hulp van vrywilligers uit die gemeenskap, Van Rooyen se bystand en die tyd wat studente van die Universiteit Stellenbosch (US) afstaan om die kinders met huiswerk te help, het dit ‘n waardevolle toevoeging tot die gemeenskap geword.
“Ons probeer ‘n stelsel van verandering met die hulp van die studente teweegbring. Ons wil ‘n stelsel skep waar kinders ondersteun word – nie net nou en dan gehelp word nie. Die studente is hier op Maandae, Woensdae en Vrydae. Sonder hul insae sou die program nie suksesvol kon wees nie,” sê Hendrikse.
Die Rotariërs het besluit om ‘n bruikbare skenking aan die span te gee.
“Ons is besonder bly dat die ruim bydrae van ons mede-Rotariërs in die Verenigde Koninkryk ons in staat gestel het om op ‘n duidelik geïdentifiseerde behoefte in ons eie gemeenskap te reageer,” het Monique Labat, die president van die Rotariër-klub van Stellenbosch, gesê.
“Die akademiese ondersteuningsentrum is ‘n uitstekende voorbeeld van wat bereik kan word wanneer toegewyde gemeenskapslede, studente en organisasies saamwerk om geleenthede te skep en praktiese ondersteuning te bied.”
Hulp van ver
Die internasionale Engelse Rotariërs is van die Rotariër-klub van East Grinstead Meridian.
Dr Rudi Buys, die Stellenbosch-munisipaliteit se onderburgemeester, het by die oorhandiging gesê niemand is werklik alleen nie. Buys het die kinders aangemoedig en sê hulp is altyd beskikbaar indien hulle “braaf genoeg” is om vir hulp te vra.
“Kombersies het ‘n manier om ons veilig te laat voel en ek hoop dit is wat julle ervaar. Wanneer dit koud is, trek die kombersies oor jul skouers en dalk voel julle ook nie meer so alleen in daardie oomblik nie,” het Buys gesê.
Volgens Labat weerspieël die skenking die Rotariërs se verbintenis tot diens bo persoonlike belang en die plaaslike organisasie se strewe om praktiese gemeenskapsbehoeftes aan te pak en ‘n blywende, positiewe invloed te skep.
- Vir meer oor die Stellenbosch-Rotariërs, stuur ‘n e-pos aan Jackie Hunter by secretary@rotarystellenbosch.org.za.
LEES OOK: Gholfdag styf fonds






You must be logged in to post a comment.