Talle klaviere vergader dikwels stof in woonkamers, terwyl skole of gemeenskapsprojekte met ‘n tekort aan instrumente hulle weer tot hul reg sou kan laat kom.
Cape Piano se Piano Graveyard Revival-projek voorsien landswyd aan ‘n behoefte deur welwillende Suid-Afrikaners se ongebruikte klaviere by behoeftige gemeenskappe en impakryke projekte uit te kry.
Die kern van Cape Piano se missie is om verbindings te bou wat opvoeding ondersteun en inpirasie skep, wat uiteindelik die konsertverhoog direk met die gemeenskap verbind.
Tydens die Toyota Stellenbosch Woordfees het Baz-Art en die Klavier-ekstravaganza-produksie in vennootskap getree om Maandag 5 Oktober ‘n skilder-aksie van stapel te stuur, wat vier klaviere in kunswerke omgeskep het.
LEES OOK: Apex Stellenbosch: A new vision for education

Instrumente geskenk
Die kunstenaars – Romi Frida Flowers, Muneeb Omar, Sanelisiwe Singaphi en Maximillian Goldin – het tydens dié geleentheid gesê musiek vir hulle beteken om op ‘n klavier te skilder.
Die instrumente is deur private eienaars geskenk en sal nou by organisasies en skole wat dit benodig, ‘n tuiste vind.
Twee van die nuutgeskilderde klaviere was tydens die Klavier-ekstravaganza op die verhoog te sien en is daarna aan hul nuwe eienaars oorhandig: Bridges for Music in Langa en Apex Stellenbosch Primêr.
Bridges for Music is organisasie sonder winsbejag en wat die kreatiewe gees in behoeftige gemeenskappe ondersteun deur programme in musiek, kreatiewe entrepeneurskap en welstand.
Die projek het byna 800 geregisteerde studente en 400 werksgeleenthede geskep, wat kreatiewe jongmense help om verandering te dryf.

Planne vir groei
Apex Stellenbosch Primêr bied as deel van die kurrikulum musiek aan leerders van gr. R tot gr. 7. Die skoolhoof, Tanya Schilder, sê ‘n klavier sal veral in die grondslagfase die leerproses meer prakties en innemend maak.
Die instrument bied leerders ‘n ervaring waartoe baie studente andersins nooit toegang sou hê nie.
Die skool hoop om ‘n laerskoolkoor, en met tyd ook ‘n wyer musiekprogram, op die been te bring. Intussen sal die klavier klasonderrig, saalbyeenkomstee, uitvoerings en kooroefeninge ondersteun.
Die voortgesette werk van die Piano Graveyard Revival-projek is deur die vrygewigheid van talle mense moontlik gemaak – vrywilligers wat hul tyd gee, vennote met ondersteuning en die publiek wat deur skenkings, aanmoediging en die bereidwilligheid om betrokke te raak, ‘n verskil maak.
Cape Piano moedig individue, sakelui en musiekliefhebbers aan om die momentum te help behou deur geld in te insamel om die oorblywende geskenkte klaviere met gemeenskapsprojekte te verbind en die projek verder te laat groei.
• Besoek www.capepiano.com vir meer inligting oor hoe om betrokke te raak.




You must be logged in to post a comment.