‘n Tragiese voorval het die afgelope Maandag (12 Oktober) op ‘n plaas in die Klapmuts-omgewing plaasgevind toe ‘n man oorlede is nadat hy glo in ‘n komposmasjien beland het.
Die slagoffer, Dino Louw (40), was ten tyde van die voorval ‘n werker by Reliance Compost op die plaas Corona langs die R312.
Reliance vervaardig organiese kompos en produk-mengsels vir individue, die landboubedryf en munisipaliteite.
Dit is in hierdie stadium nie bekend wat tot die fratsongeluk gelei het nie.
Nova News verneem vertroulik dat Louw se hele liggaam binne die masjien verstrengel geraak het.
Marais van Zyl, operasionele bestuurder by Reliance Compost, het bynavraag gesê die maatskappy sal geen kommentaar oor die voorval lewer nie.
Intussen het lt.kol. Frederick van Wyk, woorvoerder vir die Wes-Kaapse polisie, die voorval bevestig.
Van Wyk het gesê die Klapmuts-polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek begin en die omstandig- hede rondom Louw se dood word ondersoek.
LEES OOK: Jong man op plaas doodgeskok
Teen die tyd van publikasie kon Louw se familie nog nie opgespoor word nie.
In September is ‘n 27-jarige man van Bellville ook in ‘n fratsongeluk dood nadat hy twee kollegas ná ‘n elektriese skok op die plaas Sandrivier buite Wellington probeer help het. Ewald Swart en die twee mans het sonpanele op ‘n dak geïnstalleer toe die voorval plaasgevind het.



