Die bedreigde Black-lug Capeblue (Aristea lugens) is in Augustus in die Papegaaiberg-natuurreservaat waargeneem.

Seldsame blom by BioBlitz op Papegaaiberg herontdek

Die bedreigde Black-lug Capeblue (Aristea lugens) is in Augustus in die Papegaaiberg-natuurreservaat waargeneem.

Die tweede BioBlitz-geleentheid by die Papegaaiberg-natuurreservaat het vrugte afgewerp met die herontdekking van ‘n seldsame blom teen die hange van die berg in Stellenbosch.

Die geleentheid is weer op ­Saterdag 22 Augustus deur die Vriende van Pape­gaaiberg in samewerking met die Nasionale Instituut vir Teoretiese en Berekeningswetenskap (NITheCS) aangebied, met die waarneming wat tot groot opgewondenheid onder die deelnemers gelei het.

Die groep ­burgerlike wetenskaplikes is weer deur prof. Ruan Veldtman, ‘n ekoloog by Sanbi en deel van NITheCS, gelei, met veiligheids­ondersteuning deur lede van die Onder Papegaaiberg-buurtwag.

LEES OOK: Bid launched to protect Papegaaiberg Nature Reserve

Prof. Ruan Veldtman en Jack Jelbert (jnr.)
Prof. Ruan Veldtman en Jack Jelbert (jnr.) by die bedreidge blom wat hulle ontdek het.

Optrede nodig

Veldtman en Jack Jelbert (jnr.) het tydens die BioBlitz die Black-lug Capeblue (Aristea lugens) herontdek en die waarneming op die iNaturalist-toepas­sing gelaai. Die blom is op die Sanbi-rooi­lys vir bedreigde spesies aangeteken.

“Sonder optrede van die munisipaliteit is dit nie moontlik om hierdie spesie of ander in die Papegaaiberg-natuurreservaat te beskerm nie,” sê Veldtman.

“Sonder sekuriteit kan die plant gestroop, vertrap of deur onwettige storting bedek word. Die stigting van ‘n bestuurskomitee vir die reservaat is die eerste stap om hierdie probleme op te los.”

Volgens Karin Coetzee, die voorsitter van die Vriende van Papegaaiberg, is die blom in 2018 laas deur die bekende en geliefde natuurkundige Dave Pepler in die reservaat waargeneem. “Dit was toe nog veilig om in die reservaat te stap,” sê Coetzee.

Bestuur kwessies

“Dit is so hartseer dat die owerhede nie die reservaat beveilig sodat inwoners en besoekers dit kan geniet nie. Die reservaat bied ‘n 360-grade- uitsig oor Stellenbosch, die pragtige berge, Tafelberg en die see.”

Coetzee voeg by dat die Vriende van Papegaaiberg reeds versoeke vir dringende ingryping aan die Stellenbosch-munisipaliteit, die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, en die nasionale departement van bosbou, visserye en die omgewing gerig het, maar sy beweer “niks gebeur om die reservaat te red nie”.

“Die reservaat word uiters swak bestuur, is verwaarloos en is lewensgevaarlik om te besoek. Tydens die BioBlitz is uitheemse plante­groei waargeneem, wat verwyder moet word. Dis ironies dat die seldsame blom reg langs die paadjie by ‘n onwettige stortingsterrein, waar misdadigers gereeld deur die reservaat beweeg, ontdek is.”

Munisipaliteit reageer

Volgens die Stellenbosch-munisipaliteit is in Januarie 2024 op ‘n “praktiese aksieplan” vir die bestuur van die reservaat ooreengekom.

“Die aksieplan takel sleutelkwessies, soos toegangsbeheer, heinings, nuwe aanwysingsborde, onwettige storting en die bevordering van toerisme en ontspanningsaktiwiteite in die reservaat,” sê Stuart Grobbelaar, ‘n munisipale woordvoerder.

“Die munisipaliteit neem die bestuur en beskerming van die reservaat ernstig op. Munisipale wetstoepassers monitor die gebied voortdurend en enige nuwe onwettige strukture word verwyder. Enige ongemagtigde besetting of gebruik van openbare grond, insluitend die natuur­­reservaat, is onwettig en word aangepak wanneer dit onder die munisipaliteit se aandag gebring word.”

Grobbelaar meen onwettige storting is ‘n beduidende uitdaging oor die land heen – veral in beboste gebiede. “Hoewel borde en wetstoepassingspatrollies deel van die munisipaliteit se reaksie is, is die samewerking van inwoners en die breër gemeenskap noodsaaklik,” sê hy.

“Die munisipaliteit verwelkom hulp, ondersteu­ning en vrywilligers wat wil bydra tot die voortgesette bestuur en beskerming van die reservaat.”

LEES OOK: Papegaaiberg-plan kom

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article