Die Hoërskool Cloetseville se A.L.G April-skoolsaal word deur die burgemeester, Jeremy Fasser, die eerste skoolhoof, Aldon April, en die huidige skoolhoof, Brandon du Plessis, geopen. Foto’s: Yaël Malgas

Hoërskool Cloetesville vereer oud-hoof met skoolsaal se nalatingskap

Die Hoërskool Cloetseville se A.L.G April-skoolsaal word deur die burgemeester, Jeremy Fasser, die eerste skoolhoof, Aldon April, en die huidige skoolhoof, Brandon du Plessis, geopen. Foto’s: Yaël Malgas

‘n “Terroris” met die Bybel onder die arm – dit is dalk hoe sommige hom onthou, maar vir die breër Hoërskool Cloetesville-gemeenskap is Aldon Louis Gregory April (80) die man wat dié hoërskool help stig het en wie se nalatingskap nou amptelik herdenk word.

Op Saterdag 29 Augustus is die plaaslike hoërskool se skoolsaal die A.L.G April-skoolsaal “gedoop”.

April en die destydse personeel het in 1979 by die skool begin en April, toe net 32, het besluit die skool het ‘n saal nodig. Hy het net daar planne beraam vir die skoolsaal, wat nou na hom vernoem is.

LEES OOK: Hoërskool Cloetesville-onderwyser op knieë by skool verras

Aldon April enJeremy Fasser
Voormalige skoolhoof van Hoërskool Cloetesville Aldon April saam met Jeremy Fasser, burgemeester van Stellenbosch, tydens die onthulling van die saalherbenoeming-plaak. Foto: Yaël Malgas

Staaltjies gedeel

Onder die alumni, wat staaltjies oor die destydse Cloetesville Sekondêre Skool (CSS) gedeel het, was die seremonie-meester en akteur Denver Vraagom, dr. Emile Reid en CSS se eerste hoofmeisie, Nicola Rabie.

Rabie het vertel van hoe April haar en haar vriende by ‘n huis gaan haal het nadat hulle besluit het om van hul klasse weg te bly.

Reid het op sy beurt vertel van die streng hand waarmee April die skool gelei het. “Ons vereer ‘n leier wie se dissipline, diens en toewyding gehelp het om die fondasie te lê waarop die skool en ons almal gebou is,” sê Reid.

Die eerste dekade van die skool se geskiedenis was nie sonder uitdagings nie, met die anti-apartheidsbetogings wat ook hier in 1980 plaasgevind het. April onthou hoe onderwysers afdrukke van skoolwerk moes maak en by leerders se huise aflewer om te verseker hulle raak nie agter nie.

‘Die Here se genade’

Benewens die akademie, was dit vir April belangrik dat die leerders aan sport en kulturele aktiwiteite moes deelneem.

Die gebore Wellingtoner kom uit ‘n musikale huis en het verseker sang was deel van CSS se buitemuurse aktiwiteite.

“Dit is net die Here se genade,” sê April oor sy hoofskap by CSS van 1979 tot 1989. Dit was danksy die oud-skoolhoof Matty Cyster wat April in Cloetesville beland het.

Cyster het April, wat destyds in Malmesbury skoolgehou het, vertel ‘n skool word in Cloetesville gebou en April het besluit om vir die hoofskap aansoek te doen. Die res is geskiedenis.

Oor die skool se leuse, “Net jou beste”, sê April dit was – en is steeds – die droom vir elke leerder. Hy sê die skool is ‘n bron van hoop, ‘n plek waar leerders moet streef om elke dag beter as gister te wees en te help skryf aan die geskiedenis van die skool en sy gemeenskap.

LEES OOK: Hoërskool Cloetesville se klas van ’85 herenig na vier dekades

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article