Chaos het verlede Vrydag-oggend in juffrou Samantha Manual se gr.12-klas uitgebreek toe dit lyk asof haar leerders mekaar te lyf gaan, maar in plaas van ‘n geveg was dit ‘n verklaring van liefde wat sy gevind het.
Manual sê dit is steeds moeilik om te glo wat gebeur het, maar haar nuwe verloofring is bewys dat Gladwin Wanza haar gevra het om te trou. “Ek was heeltemal in ‘n dwaal,” skerts die Hoërskool Cloetesville-onderwyser.
Sy is Vrydagoggend na die skoolhoof, Brandon du Plessis, se kantoor ontbied om haar vakke te bespreek. Aangesien sy ekonomie vir gr.12-leerders, toerisme vir gr.10- en ekonomiese bestuurwetenskappe vir gr.9-leerders aanbied, het Manual aanvanklik niks vreemds agtergekom nie. “Dit was ‘n diep gesprek oor my onderrigvakke, maar die hoof het wel ‘n paar keer gesê ek moet my doekie afhaal,” vertel Manual.
Synde dit die oggend gereën het en die skool later ‘n spesiale geleentheid in die aanloop tot hul derby met die Hoërskool Lückhoff gehad het, wou Manual seker maak haar hare bly mooi vir die geleentheid.

“Die hoof het verduidelik hy gaan net vinnig ‘n vorm by die sekretaresse kry toe my kinders ingebars kom en sê daar is fout by my klas.” Choas het glo in haar klaskamer uitgebreek en die leerders het Manual gemaan om vinnig te kom, want sy is die enigste mens wat hulle uitmekaar kan kry.
“Ek hardloop toe! Ek kon dit nie verstaan nie, want gr. 12B is altyd so prim and proper. Terwyl ek gehardloop het, het ek net gebid… Here help, want wat het nou gebeur?
“In die middelplein sien ek toe daar is fout, want leerders staan buite en staar op na my klas.”
Volgens Manual het sy in haar haas byna teen die trappe op gevlieg en by haar klaskamerdeur sien sy toe die deurmekaarspul – leerders staan in ‘n bondel, pluk mekaar rond en raas. “Ek het probeer deurkom en gestamp en gestoot en met die laaste stamp sien ek daar is Gladwin op sy knieë.”
Manual sê die skok was só groot sy het byna flou geword, maar gelukkig kon sy lank genoeg regop bly sodat Wanza die groot vraag kon vra. En haar antwoord? “Ja, natuurlik!”
Die paartjie het mekaar vyf maande gelede ontmoet en is vir die afgelope drie maande amptelik saam.
Albei meen hul verhouding was so bedoel en hulle het onmiddellik geweet hulle het hul lewensmaat gevind.
Wanza sê hy het gebid vir ‘n trouvrou en die Here het haar gebring. “Ek het God gevra indien Hy iemand stuur om met hulle die verhouding te bevestig. Hy het vrede in my hart gebring en wanneer jy vrede voel en nie twyfel of worstel in jou gees nie, dan weet jy,” meen Wanza.
Wanza, wat in Franschhoek op die Rickety Bridge-wynplaas werk, wou iets spesiaals doen en dié Cloetesviller het besluit om sy alma mater te betrek en só het byna die hele skool voor Manual van die verlowing geweet.
Die paartjie sê hul geloof is vir hulle uiters belangrik en hulle is gereed om saam ‘n gelowige lewe te bou en saam in God te groei.
Die twee het ook ‘n gedeelde passie vir kinders – iets wat Manual natuurlik na aan die hart lê. Wanza op sy beurt is ‘n sokkerafrigter. Die twee sien uit om hul passie voort te sit deur “kinders by dosyne” te hê.
Vir nou het die twee ‘n verlowingsverhaal wat Manual se leerders nooit sal vergeet nie.





You must be logged in to post a comment.